Moordenaars van 66-jarige vrou is nou agter tralies
Die twee moordenaars wat aangekeer is vir die sinnelose moord op 'n 66-jarige vrou is onlangs deur dr. Andries Lamprecht in die dorp se streekshof lang vonnisse opgelê.

LYDENBURG – Charlotte Kruger en haar man, Japie is op 28 Januarie 2014 in hulle huis in die Kiewietskroon-sekuriteitskompleks op die Sterkspruitplotte oorval terwyl hulle in die sitkamer voor die televisie geslaap het.
Kruger se seun, Vernon het destyds aan die koerant vertel dat sy pa wakker geword het toe een van die verdagtes ‘n vuurwapen teen sy kop gedruk het.

Die aanvallers het vir die kluis se sleutels gevra, Japie se hande en voete met binddraad vasgetrek, kouse in sy mond gestop en ‘n sak oor sy kop getrek. Charlotte is na die slaapkamer geneem waar sy ook vasgebind, haar mond vol kouse gestop, ‘n sak oor haar kop getrek en ‘n kombers oor haar gegooi is.
Sy het vermoedelik versmoor as gevolg van die obstruksies in haar mond en oor haar kop.
Op 5 Februarie 2014 is twee Mosambiekers vir die moord op Charlotte in hegtenis geneem. Twee ander verdagtes is ook vir die aankoop van die Kruger-egpaar se gesteelde goedere, gearresteer.
Sergio Maphoza en Abel Khosa is op 7 Augustus deur Lamprecht gevonnis vir die moord en huisroof vir onderskeidelik 35 en 15 jaar. Na Maphoza se arrestasie het dit ook aan die lig gekom dat hy ‘n ontsnapte uit ‘n Pretoria- tronk was waar hy tronkstraf uitgedien het vir nog ‘n moord.

Die ander twee verdagtes is vir drie jaar elk gevonnis vir die besit van die gesteelde goedere.
Sers. Phadima Maile, die ondersoekbeampte in die saak, het aan die koerant gesê dat hy sy dankbaarheid teenoor die speurtak van Lydenburg in samewerking met lede van Sabie wil uitspreek.
Die moord het destyds skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en die aandag weer op dié misdaad wat net nie hokgeslaan kan word nie, gevestig.

