Hoe om jouself en jou huis te beveilig

Die meeste mense maak gebruik van sekuriteitsmaatskappye wat gereelde patrolering en ook alarmdienste insluit. Maar is dit genoeg?

Dit is Desember en dit beteken vakansietyd, maar een ding wat in mense se koppe hamer is die vraag, “Is my huis genoeg beveilig?” ‘n Mens kan seker nooit met sekerheid daardie vraag beantwoord nie, juis omdat die skelms om elke hoek en draai staan, en elke jaar meer kreatiewe maniere kry om deur diefwering te breek.

Wat meer kan jy doen om jou huis veilig te hou terwyl jy weg is? Volgens die webtuiste van Home and Garden, is daar ‘n hele paar maniere om jouself gerus te stel.

Die eerste is om iemand in jou omgewing te identifiseer wat jy kan vertrou. Gee vir daardie persoon ‘n sleutel vir jou hek en huis. Sodoende kan hulle toegang tot jou erf kry indien iets gebeur.

Een van die maniere, wat ook blyk die betroubaarste vorm van sekuriteit te wees, is om iemand te kry wat in jou huis woon. Dit moet iemand wees wat jy vertrou, wat in die woning kan slaap en daaglikse takies verrig. Sodoende kan kwaaddoeners sien dat daar iemand tuis is, en dit dien as ‘n afskrikmiddel. Terselfdertyd het jy dan ook sommer iemand wat die diere kos en water gee en jou plante versorg. Dit waarborg egter nie dat daar nie ‘n inbraak sal wees nie. Selfs wanneer mense tuis is, word ingebreek.

Pos is een van die metodes wat diewe gebruik om te bepaal hoe lank laas jy by die huis was. Reël met iemand om joune uit jou posbus te verwyder of selfs met die posdienste om nie af te lewer in die tyd wat jy weg is nie. Selfs voubiljette moet van hekke afgehaal word. Hulle kan jou pos vir tot 30 dae hou vanwaar jy dit dan weer kan afhaal.

Een ding wat uitstaan in ‘n huis is donkerte. Dit is die vinnigste manier om te sien niemand is tuis nie. Belê in ‘n tydskakelaar wat die ligte in jou huis op voorafgeprogrameerde tye laat aan- en afgaan. Dit skep die illusie dat iemand in die huis is.

Indien jy beplan om vir ‘n langer tydperk weg te gaan, neem jou tuin in ag. Plante gaan oorgroei en die gras gaan soos ‘n bosveld begin lyk. Reël met bure om vir die tuinjong oop te sluit en laat hom kom werk soos normaalweg.

Almal is opgewonde om met vakansie te gaan, maar wees versigtig met wie jy praat. Sosiale media is beslis nie die plek om vir die wêreld aan te kondig dat jy jou huis vir ‘n ruk alleen gaan laat nie. Die verkeerde persoon hoor of lees dit dalk, en daar praat jy jouself in ‘n inbraak in. Wanneer jy van plan is om iewers heen te vlieg en jou voertuig by die lughawe te los, moenie die navigasietoestel aan die voorruit los nie. Dit kan skelms presies terugvat na waar jy vandaan kom – jou huis.

‘n Alarmstelsel laat ‘n mens meer gerus voel. Sodra die alarm afgaan, word die kontrolekamer in kennis gestel en hoor jou bure dit. Dit mag boosdoeners dalk ook net aanspoor om hulle liewer vinnig uit die voete te maak as om op heterdaad betrap te word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button