Afriforum se buurtwag wil ‘n verskil maak
Gedurende April en Mei is verskeie gevalle van neut- en vrugtediefstal in die Witrivier-omgewing aangemeld, waarna lede van AfriForum se buurtwag in Witrivier verhoogde patrollies in die betrokke gebiede ontplooi het. Tydens een van dié patrollies het die buurtwag inligting ontvang dat diewe besig is om neute uit ‘n pakhuis te steel en lede van …
Gedurende April en Mei is verskeie gevalle van neut- en vrugtediefstal in die Witrivier-omgewing aangemeld, waarna lede van AfriForum se buurtwag in Witrivier verhoogde patrollies in die betrokke gebiede ontplooi het.
Tydens een van dié patrollies het die buurtwag inligting ontvang dat diewe besig is om neute uit ‘n pakhuis te steel en lede van die Heidelvallei-plaaswag, J&M Sekuriteit en die Witrivier SAPD is na ‘n nabygeleë bymekaarkompunt ontbied.
Met fyn beplanning is ‘n klopjag uitgevoer en drie verdagtes is vir diefstal gearresteer. Die beraamde waarde van die gesteelde neute was R140 000.
Daar is ook verskeie ander pogings van vrugtediefstal in die omgewing aangemeld en meer as R60 000 se vrugte is na vinnige reaksie van ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy teruggevind.
“Ons vra boere om deel van ons patrollies en ander proaktiewe optredes te word aangesien dit werklik daartoe bydra om die probleem van diefstal in ons omgewing onder beheer te bring,” sê Johan Pelser, voorsitter van AfriForum se Witrivier-buurtwag.
Boere en inwoners kan by AfriForum se Witrivier-buurtwag aansluit deur “Witrivier” na 45350 te SMS. Elke SMS kos R1.
