Laeveld Fotografieklub benoem hul bestes

Daar is verskeie pryse en trofeë toegeken. Die belangrikste groot pryse was dié van fotograaf van die jaar, wat jaarliks toegeken word, vir beide die junior (opkomende) fotograaf en die senior fotograaf van die jaar.

Die Laeveld Fotografieklub van Mbombela het onlangs sy jaarlikse afsluiting- en prysuitdelingsfunksie by die Krokodil Lapa in Malalane gehou.

Joline Beneke het weggeloop met die gesogte wisseltrofee vir junior fotograaf van die jaar. Beneke het vanjaar in Januarie by die klub aangesluit en haar fotografie het met reuseskrede ontwikkel.

Human Meyer het weggeloop met die groot wisseltrofee en prys van senior fotograaf van die jaar.

“Human het vanjaar baie moeite ingesit en ook baie goed gedoen op ‘n nasionale vlak. Hy is ‘n ou hand by die klub; om die waarheid te sê is hy reeds ‘n lid van die klub reg vanaf die ontstaan daarvan,” het Martin Slabbert, voorsitter van die klub, gesê.

Beide Beneke en Meyer het verskeie ander pryse gewen.

Henk ten Kate was die mees veelsydige junior fotograaf van die jaar.

LEES OOK: Beskerm jou woef teen katgriep

Wouter Serfontein het sy spesiale Laeveld Fotografie-hoed gekry, aangesien hy gedurende die jaar die graderingsvlak van meester brons bereik het.

“Toe ek ‘n paar jaar terug sien hoe van die ander klublede hulle spesiale hoede kry, het ek vir myself die doel gestel om dit ook reg te kry,” het hy gesê.

Vanjaar het twee van die klublede, naamlik Cornell Nortier en Human Meyer, die eretoekenning van EPSSA vanaf Suid-Afrika se oorhoofse fotografieliggaam PSSA (Photographic Society of South Africa) gekry.

“Dit is van die hogere eretoekennings wat deur hulle gedoen word. Tot dusver is daar nog net twee ander mense in die Laeveld wat die vlak kon bereik, Roelof Janse van Rensburg en André Serfontein. Dit is dus ‘n uitsonderlike prestasie en beide het baie hard gewerk hieraan. Nortier het ook sommer vanjaar die DPSSA-erkenning gekry,” vertel Slabbert.

Hy vertel verder: “Die lede van Laeveld Fotografieklub is almal mense wat op ‘n stadium besluit het hulle wil bietjie meer leer van hulle belangstelling: fotografie. Dit is iets waarvan jy hou en graag iets meer wil doen as die normale kiekies by partytjies of familiegeleenthede.

“Almal was maar baie skrikkerig en bang dat hulle eie fotos gaan afsteek by die fotograwe wat kan. Een en almal in die klub voel dat die klub die grootste rede is vir die vlak waar hulle fotografie nou is.”

Die Laeveld Fotografieklub is die plek waar lede met mekaar hulle belangstelling deel en mekaar ondersteun en leer. As iemand meer wil uitvind van die klub, kan hulle die voorsitter, Martin Slabbert, kontak by 082-568-1589.

LEES OOK: Die geskiedenis van ou Nelspruit se poskantoor

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button