Werknemer word vroegoggend by sakeonderneming in Hazyview gekaap
'n Werknemer by 'n plaaslike bouhandelaar is verlede Donderdag in die parkeerterrein van sy werksplek gekaap en deur 'n man met 'n vuurwapen gedwing om verder te ry. Hy is 'n ent verder uit die motor gegooi waarna die kaper vort is met die motor.

Frikkie Erasmus, ‘n werknemer by BUCO in die dorp het aan Hazyview Herald vertel hoe hy vroegoggend aangebied het om ‘n kollega se motor te skuif. Sy het nader parkeer om hout af te laai. Hy het kort na die oggendkoffie aangebied om haar voertuig op sy plek te gaan parkeer.
Erasmus vertel dat hy pas agter die stuur van die Hyundai i30 ingeskuif het, toe ‘n man met ‘n vuurwapen hom genader het. Dié het agter hom ingeklim en gedreig om hom te skiet, sou hy nie saam met hom vertrek nie.
Erasmus sê hy moes eers in die rigting van Junction Shopping Centre en vandaar na Fourways Café, waar hy na Sanbonani Resort Hotel & Spa moes afdraai. Hier is hy beveel om af te trek en stil te hou. Die verdagte het hom uit die kar gepluk, agter die stuur gespring en weggejaag.
LEES OOK: Hongersnood neem toe in Mbombela
Erasmus sê dit was nie ver van die huis van sy skoonouers af nie. Hy het soontoe gehardloop vanwaar die polisie van die voorval in kennis gestel is.
Die voertuig is die volgende dag in die bosse langs die Sandrivier gevind. Dit is erg verniel met die boodskap “You’re next” aan die kant gekrap.
Die polisie ondersoek die voorval.
