Bangbroek of nie; vreemde figure dwaal steeds rond.
Twee afsonderlike persone wat voorheen op die einste myn werksaam was, was bereid om 'n bietjie meer rondom die spook-oom te deel. Volgens Johan van Dyk* is dié gees al 'n geruime tyd daar.

Wat sluip in die donker rond? Mense is mal oor bangmaak-, spookagtige stories en dit word dikwels vrylik rondom die kampvuur gedeel.
Die glo in spoke is ‘n kenmerk van meeste westerse kulture. Daar is baie soorte spoke, soos ‘n mens kan aflei te danke aan die verskillende soorte stories.
Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is dit “‘n gees van ‘n afgestorwene wat aan lewendes verskyn; vreesaanjaende verskyning wat hom meestal snags openbaar; skim… Iets wat vrees verwek; waandenkbeeld; hersenskim… Skrikbarende iets; skrikbeeld… Lelike mens(!)”.
Volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek is ‘n spook “‘n bonatuurlike, gewoonlik nagtelike en angswekkende verskyning, gees van afgestorwene wat aan lewendes sou verskyn, dwaalgees; hersenskim, denkbeeldige bedreiging of gevaar; iets wat vrees verwek, geheimsinnige gedaante”.
Dit gesê, het Lydenburg en sy buitewyke natuurlik ook hul eie bonatuurlike verskynsels wat selfs glo ‘n geharde man se baardhare sal laat rys.
Steelburger/Lydenburg Nuus het toevallig te hore gekom van ‘n spook-oom wat glo al vir jare sy rondte doen by een van die myne aangrensend aan die dorp.
READ: Robert Gumede donates R4 million’s state-of-the-art Covid-19 equipment 
Twee afsonderlike persone wat voorheen op die einste myn werksaam was, was bereid om ‘n bietjie meer rondom die spook-oom te deel. Volgens Johan van Dyk* is dié gees al ‘n geruime tyd daar.
“By die spesifieke myn waar ek gewerk het, het daar elke jaar op 24 Desember, Oukersaand, ‘n ou blanke oom op n breëwielfiets verby gery. Hy het nooit gepraat of gegroet nie en altyd verdwyn net voor hy by die hoofpad uitgekom het.
Die pad was helder belig en binne sig-afstand. Elke jaar op dieselfde dag en dieselfde tyd – 00:01. Al die manne en sekuriteitspersoneel wat by die ou padblokkade gewerk het, het hom gesien.”
Pieter Smal* deel byna presies dieselfde vertelling van die ou oom. “Ek het die man met die fiets vier keer gesien. Ek het vier jaar by daardie padblokkade gewerk. Die oom het elke Desember daar verby gery; nooit gepraat nie, nooit vir ons gekyk nie. Net verby gekom in doodse stilte en dan by die stopstraat verdwyn.
Hy het gewone klere aangehad, maar het ‘n outydse back-pedal-fiets gery. Sy hare was grys, maar sy gesig was altyd in skaduwee gehul.”
Behalwe vir die oom op die fiets, het nog ‘n myn, slegs 2,8 km weg van bogenoemde nog ‘n spookgedaante wat graag haar verskyning maak. Smal vertel dat ‘n vrou in hoëhakskoene gereeld haar verskyning snags op die kantore se stoepe maak.
Die spook se verskyning word ook gestaaf deur nog ‘n kontrakteur wat op die myn gewerk het. “Niemand wil snags naby die hoofkantoor werk of inklok nie. Dit is waar sy gereeld gehoor en ook gesien word. Mens kan die klip-klap-klip-klap van haar hakskoene duidelik hoor. “Wie sy is, weet ek ongelukkig nie. Waar sy vandaan kom ook nie. Ek wil eerder nie weet nie…”
ALSO READ: Public libraries are now open
Volgens inligting is die vroulike gees ‘n voormalige werknemer van die myn. Sy het glo op die pad na die myn verongeluk.
Of jy nou glo in spoke en geeste of nié, sekere vertellings kan egter nie ontken word nie. Indien jy jou storie met ons wil deel, is jy meer as welkom om ‘n e-pos te stuur na narda@lowvelder.co.za of ‘n WhatsApp na 083-554-3961.
*Skuilname is gebruik.
