Groot verwagtinge vir LHS se 2020 matrieks
Die 2020- matrieks het bewys dat hulle baie deursettingsvermoë het nadat hulle ondanks Covid-19 en inperkingregulasies, steeds hul skoolwerk eerste moes stel. Daar was nie kans vir stil sit of tyd om te top oor wat in die wêreld aangaan nie.

Met ‘n gedugte span leerkragte agter hulle, het hulle die virtuele klasse bygewoon en gesorg dat hul matriekjaar prioriteit geniet. Hoërskool Lydenburg het ‘n paar jaar gelede die unieke tradisie begin om matrieks deur ‘n hekkie te laat stap, wat hul toekoms spreekwoordelik voorstel. Vanjaar was dit nie met die tradisionele bladskud nie, maar wel met ‘n elmboogstamp waarmee Chrismarie Aucamp, waarnemende hoof, hulle sterkte toegewens het.
Lees ook: Matriekonderwyseres wys hul staal
Met die aanvang van die eindeksamen op Donderdag 5 November, het Aucamp gesê: “Hoërskool Lydenburg groet julle met groot verwagtinge. Ons roem ons nie in wat ons besit of bereik het nie. Nee, ons roem ons in die mense wat hiervandaan uitgaan en so gaan leef dat die wêreld beter daaraan toe is net omdat hulle nou daar is. Dankbaarheid, omgee vir mekaar en hoop vir ‘n blink toekoms is tasbaar met die matriekeindeksamen wat afskop.
“Met deernis en seënwense, wens ons julle sterkte toe met die eksamen en mag die toekoms so blink dat jy dit met jou shades kan aanpak! In die woorde van Breyten Breytenbach: Mag die bome groen bly en die sterre wit. En mag daar altyd mense wees wat mekaar sonder skaamte in die oë kan kyk. Want die lewe is net ‘n asem lank.”











