Boeke met je ne sais quoi

'n Ma en haar twee dogters het nie tydens die inperking ledig rondgesit nie. Hulle het kreatief hul pennevrugte voltooi en dit onlangs op 'n luisterryke wyse bekendgestel.

Mariaan Lamprecht, skoolhoof van Entheos Christian School en haar dogters, Nadia Lamprecht, onderwyser aan Hoërskool Lydenburg, en oud-Lydenburger Celesté Majcher, wat nou in Skotland woon, kan voorwaar trots wees op die eindproduk.

 

Celesté, wat ook ‘n blog skryf as die “Pastor’s Wife”, is die ma van ‘n woelige drieling en twee ouer kleuters. Haar man, Ian, is ‘n pastoor by die Bothwell Parish Church in Edinburgh.

Haar boek se naam is Die Verlatenes en is ook in Engels vertaal as The Forgotten. Tydens haar jaar as tuisversorger in Edinburgh het sy na tientalle mense omgesien – sommige jonk, sommige oud, maar die meeste was totaal en al verlate en vergete. Elkeen het ‘n storie gehad wat hulle tog so graag wou vertel en die meeste hiervan was beide hartseer en mooi. Die Verlatenes is ‘n versameling van 13 hartstories wat haar die meeste opgeval het. Celesté kon natuurlik nie die boekbekendstelling bywoon nie, maar haar ma en suster het haar goed verteenwoordig. Mariaan het besluit om haar boek onder die skuilnaam “Eyjafjalla” te publiseer.

Dit is die vulkaan in Ysland wat in 2010 uitgebars het. Baie as is afgegee en geen vliegtuie kon vlieg in die Noordelike Halfrond nie. Ysland het ‘n spesiale plek in haar hart nadat sy dit twee maal besoek het. Sy geniet die skuilnaam omdat dit haar persoonlikheid ook tong-in-die-kies as plofbaar beskryf. Die boek gaan meerendeels oor hoe sy die afsterwe en kankerstryd van haar man, landdros Dries, hanteer en verwerk het. Sy hoop dat sy ander met haar lewenservaringe kan motiveer. Sy het dit begin skryf toe Dries in 2016 siek geword het.

Dit was as ‘n dagboek en program ingedeel met doelwitte waarby sy wou uitkom. Dit is eenvoudige stappe, soos die hoofstuk Áanvaarding, al is dit net aanvaarding dat jy jouself toestemming gee om daardie dag nie op te staan nie… En more probeer ‘n mens weer. Ook aanvaarding dat jou eggenoot nie meer by jou is nie.

Lees ook:  Stropers op heterdaad vasgetrek

In 2017 het Dries weer siek geword en is vyf maande later in Maart 2018 oorlede. Toe het dit haar ‘n bietjie langer as twee jaar geneem om die boek en doelwitte wat sy vir haarself gestel het, weer te voltooi. Sy het teruggegaan na dieselfde program wat sy in 2016 opgestel het. Die Engelse titel is The Dining Room Light is On. “Ek is ‘n reisiger en sal my nooit aan ‘n enkele plek kan bind nie.

‘n Huis is ‘n slaapplek, die wêreld is waar ek wil beweeg. Ek is ‘n geregistreerde berader met ‘n privaat praktyk, maar nuwe uitdagings trek my soos ‘n magneet, so ek het ‘n ekstra graad in onderwys gedoen. Ek hou van tale, en hoewel ek net Afrikaans en Engels kan praat, lees ek Nederlands en Duits en leer ek myself om Frans en Noorweegs te lees,” het Mariaan gesê. Nadia se boek Pa-reis is ‘n verwerkte heruitgawe van haar wedervaringe as onderwyser in Parys. Dit is in 2015 gepubliseer. Maar sy het verder daaraan geskaaf en nou weer uitgegee.

Sy reis reeds vir jare gereeld na Parys en het ook al verskeie skooltoere gelei na die Franse stad van liefde. Sy vra met reg die vraag af – hoe oorleef ‘n mens ‘n jaar in Parys?

Haar eerste reël is moenie Engels praat nie, die tweede reël is moet glad nie Engels praat nie en derdens, wees eerder net Frans – dis makliker. Sy verwoord van die vele dinge wat sy as mens geleer het en deel ‘n jaar se e-posse, nuus, reiservaringe, hongerly, voorstelle en raad.

Dit is voorwaar ‘n boek met je ne sais quoi. Boonop het al drie hul boeke in Engels ook vertaal en is dit reeds op Amazon beskikbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button