Oudag se ougoed herleef op Ouwerf

LYDENBURG - Op Pieter en Melitsa Kügel se plaas, Ouwerf, buite die dorp op die pad na Dullstroom, stap jy 'n ander tyd binne. Op die werf en in die huis is jy omring met oudag se plaasgoed. Jy voel jou leef in 'n museum.

Pieter is ‘n gevestigde kunstenaar in die kontrei. Sy opdragwerke – dikwels plaastonele en spogdiere – hang ook ver buite die landsgrense teen mure. Sommige daarvan is groot skilderye wat jou met die volle krag van werklikheid en kleur tref.

Lees ook: Boeke met je ne sais quo

Buiten skilder en beeldhouwerk, is hy ook ‘n versamelaar van ou goed. Hy restoureer waens en meubels en boer met Arabier-perde. Melitsa maak tuin en haar lushof waar sy al meer as 300 roosbome eiehandig in die grond gekry het, word dikwels gebruik as agtergrond vir troufoto’s en spesiale geleenthede. Die meegaande foto’s is onlangs met ‘n besoek aan die Kügels geneem. Kry hier solank ‘n voorsmakie.

Nou wil die egpaar hierdie besondere en vredevolle plek van hulle ook met besoekers deel. Die werf moet lyk soos Lydenburg van ouds. Daar moet weer ‘n werkende smidswinkel wees en in die bakoond moet vars boerbrode gebak word. Uit die karrings moet weer goudgeel plaasbotter geskep word en onder die koel sinkdakke moet moerkoffie en volkskos bedien word – voorberei op ‘n rokerige es of op die koolstoof. ‘n Lewende museum is wat Pieter in gedagte het.

 

‘n Toeristebestemming waar besoekers kan aanry en weer die rustige plaas- en dorpslewe ervaar soos dit vroeër was.

Op die werf moet die skrophoenders nesmaak vir die weglê-eiers en by die kwekery neffens die fyntuin, moet jy jou kruieplantjies kom uitsoek vir die saamneem saam met die boerbrood, plaasbotter en perskekonfyt – eie aan die kontrei. En laatmiddag moet die klop van die Lister die ligte laat aangaan. Pieter versamel sy hele lewe al ou goed en bouware.

Lees ook: Stropers op heterdaad vasgetrek

Hy sê dinge gaan nou begin gebeur. Hy wil byvoorbeeld replikas van ou Lydenburg-geboue en ou bekende plekke uit die voortyd hier op sy plaas bou. Hy het al amper alles van die McGee se motorhawe en ook die Koeleman Smidtswinkel hier bymekaar. Pale word nou geplant en daar moet gebou word.  

Soos hy sy hele lewe al ou goed soek en soms moes afbedel om hier op die plaas mooi weg te bêre en met die tyd heel te maak en uit te stal, so soek hy nou ou bouware soos kleistene en sinkplaat wat al ‘n bietjie tyd wys. Deure en vensterrame en ou dakbalke.

Goed wat op werwe en agterplase opgegaar rondlê of gestapel is. As jy het en jy wil wegggee, bel hom by 074-270-7222. Hy sal kom laai.  

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button