Stropers op heterdaad betrap
Ses stropers is Sondag op die plaas Goedeverwagting, Beetgekraal op heterdaad betrap. Toe Wynand Ferreira, Lourens de Kock en Riaan Engelbrecht om 04:00 ’n draai op die plaas gaan ry het, het hulle die Toyota-enkelkajuitbakkie met ’n spreilig op gesien.

Goedeverwagting, ook bekend as Nap’nNap, behoort aan Paul Grobler snr., waar hy en sy seun Paul Grobler jnr. saam boer. “Hulle het die bakkie gesien en daarin geslaag om dit vas te trek. Hulle het my gebel en ook die polisie. Terwyl hulle vir die beamptes gewag het, het vier van die verdagtes weggekom, maar hulle kon egter twee terughou,” het Paul jnr. vertel.
Read also: Threats of Eskom power cuts, again
Die polisie het beslag gelê op ’n .30-06-jaggeweer met ’n geluiddemper en ’n 9 mm-pistool. Paul jnr. het gesê daar was twee bosbokramme, twee ribbokramme, twee rooiribbokramme en vier rooiribbokooie, drie oorbietjies (oribi) en ’n ystervark. Die geskatte waarde van ’n oorbietjie is R30 000. Sowat drie maande gelede is dieselfde Toyota-bakkie op die plaas gemerk en daar is ook voorheen ander bewyse van stropers se teenwoordigheid gevind, soos die grensdraad wat platgedruk was en bloed by een grenshek. Van die verdagtes is afkomstig van Mbombela, en die ander is plaaslike mans wat aangestel word vir die stroop van die wild. Themba Mzimba van die Mpumalanga Toerisme en Parkeraad, het kort na die polisie opgedaag. “Ons hoop om spoedig nog arrestasies te maak. Die verdagtes is bekend onder die gemeenskap,” het Mzimba verder gesê. Die twee verdagtes het Maandag 16 November in die Lydenburg Landdroshof verskryn en is op borgtog vrygelaat. Die saak kom weer op 10 Desember voor. Die ondersoek is ook nog nie afgehandel nie en die polisie is op die spoor van die vier verdagtes wat ontsnap het.
Also: Rhino poachers stopped in their tracks





