Gemeenskap rou ontvalle rugbyvader
Dat Ockie Faul diep spore in die rugbygemeenskap getrap het, is gewis. Onder sy leiding het die Lydenburg Rugbyklub (nou die Rooikatte) nuwe hoogtes bereik en sy geskiedenis van nasionale en provinsiale rugbybestuur is elle lank.
Faul en sy vrou het vir 27 jaar in Lydenburg gewoon voor hulle in 2013 na Richardsbaai verhuis het. Hy is op 4 Januarie oorlede weens hartkomplikasies van Covid-19. Hy was voorsitter van die Lydenburg Rugbyklub, bestuurslid van die Laeveldse Rugbyunie en ook presidentsraadslid van die Mpumalanga Rugbyunie. Faul was gewild as bestuurder van verskeie spanne in die provinsie se rugbystrukture. “Ockie het die Lydenburg Rugbyklub verteenwoordig op die algemene vergaderings van die Laeveld Rugbyunie van 1990 tot 1993. Hy was ook die seniorkeurder in 1993 en 1994. Hy het op die uitvoerende bestuursraad van die Laeveld Rugbyunie gedien vanaf 1992 tot 1996 met die unie se ontbinding,” het Arrie Myburg, adjunkpresident van die Mpumalanga Rugbyunie, gesê. Faul was ook ‘n aktiewe lid en deelnemer van die Mpumalanga Rugbyunie, waar hy die uitvoerende bestuurder was van 2000 tot 2007. Hy het verskeie kere die unie in die SA Rugbyunie se amateurtoernooi vir provinsiale streke verteenwoordig, wat jaarliks regoor die land plaasgevind het.
“Ockie was baie lojaal teenoor sy klub in Lydenburg en beide die unies van die Pumas en Laeveld. Hy was baie eerlik en opreg, en het altyd die sport gedien met absolute oorgawe,” het Myburg verder gesê. Faul laat sy vrou, Tilly (wat tans ook kritiek is na ‘n val), drie kinders, agt kleinkinders en een agterkleinkind na. Volgens sy dogter, Debbie van Vuuren, word ‘n roudiens in Carolina in Februarie beplan, wanneer sy naastes weer gesond is en dit kan bywoon.
Lees ook: Mis, ’n biertjie en ’n pot
