Dam- en riviervlakke tot oorlopens vols
Die plaaslike damme en riviere het omtrent oorgeloop met die afgelope paar weke se swaar reën.
Die uitwerking van Eloise wat Mpumalanga en Limpopo getref het, se nagevolge kan steeds bespeur word. Die Kwena- en Ohrigstaddamme se vlakke het onderskeidelik na 48 en 38 persent gestyg, waar dit vroeg in Januarie maar drie en vyf persent vol was.
Flood waters invades town
Die Lydenburgdam is tans 111,3 persent vol. Tussen 22 en 24 Januarie het 400mm in die groter Lydenburg-opvangsgebied geval en die riviere het oorstroom weens die vloedwater. By die brug in Viljoenstraat (net onder Laramie Spur en by Coastal Hire) moes die voertuie mooi mik sodat hulle nie sommer begin wegdryf nie. Die brug in Lydenburgstraat het heeltemal oorspoel en mense het van oorkant die rivier na mekaar gewaai. So ook by die ou Kleinkoewynspas, hoër op teen die dorpsrivier. Dit was die oorspronklike bruggie wat die dorp se noord- en oosdele aanmekaar verbind het voordat die brug in Lydenburgstraat opgegradeer is in die laat tagtigerjare.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWS) voorspel nog reën vir die week en maan inwoners in laagliggende areas om versigtig te wees.






