Nuwe dansstudio lok kreatiewe voete na vore

Dit was Aimee Engelbrecht se droom om 'n studio te bou wat 'n hawe sou wees vir die kreatiewe mense op die dorp. Engelbrecht het haar liefde en passie vir dans geëwenaar met die bou van 'n splinternuwe kreatiwiteitsentrum, genaamd Die Ateljee.

Met intrinsieke mosaïekwerk op die trappe en in die badkamer, regte loodglasvensters, argitektoniese balke en nuwe houtvloere, is dit ‘n studio om te bewonder. Sy wil in die toekoms funksies soos kunsuitstallings hier hou en ook haar eie kunsklasse aanbied. Engelbrecht is reeds vir jare deel van die Rosemarie Middleton Dansstudio, wat wynig bekendstelling in Lydenburg nodig het. Die klasse by die NG Lydenburg-Suid gaan voort, maar Die Ateljee gaan ook ingespan word. Daar is ‘n groot verskeidenheid nuwe dansklasse op die program om die nuwe studio behoorlik in te wy. Tans is moderne dans, klopdanse, vrystylballet en hip-hop deel van die klasse.

Lees ook: Nuwe CD bekoor met soete klanke

Dit sluit lyndans en Israeliese volksdanse in. Die lyndans gaan deur Elsa Viljoen van Witrivier aangebied word as ‘n naweekwerkswinkel op 26 en 27 Maart. Sy is ‘n voormalige Suid-Afrikaanse kampioen. Die choreograaf, Brendan McLaren van Johannesburg, gaan ook eersdaags kom draai vir professionele klasse. Die kinders kan solank opgewonde raak oor jazz, dans en musiekteater saam met die lyndans. Vir diegene wat twee linkervoete het, gaan die Bybelse historiese danse aangebied word en eenvoudige dansbewegings gekombineer met pilates deur Kim Middleton, Rosemarie se dogter wat twee jaar gelede by die dansskool aangesluit het. Die ma-en-dogterspan rig gereeld studente af vir die SA Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste, kunswedstryde, Eisteddfods, konserte en eksterne internasionale eksamens. Beide is lede van die Association of International Dance Teachers, is nasionale eksaminators en het uitgebreide CV’s in die danswêreld. Middleton het ook al verskeie kere die gewilde Lydenburg’s Got Talent aangebied en hoop om dit weer op die planke te bring. “Dans is meer as bloot net ‘n sport; dis ‘n passie. Dans is iets waarin jy hard werk, iets waarin jy al jou spaartyd en moeite belê. Ek hou daarvan om die dansers af te rig en tyd te spandeer met die kleingoed. Dans is ‘n manier waarop mense van alle ouderdomme fiks kan bly. Bo en behalwe die pret daarvan, verskaf dit ook vele positiewe gesondheidsvoordele.

“Ons weet Aimee se nuwe studio sal selfs meer mense inspireer om hierdie wonderlike tydverdryf in Lydenburg op te neem. Die manne moet ook gereed maak vir geselskapsbaldans en die lyndans,” het Rosemarie gesê. Kontak Rosemarie gerus by 082-330-2155 om meer uit te vind oor die klasse, en Aimee Engelbrecht by 082-678-7839 om die saal te bespreek vir klasse of funksies.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button