Nuwe leeraar, ou bekende

Met sy skoon lug, groen valleie en berge op die horison is dié pragdorp dikwels 'n hartsplek waarheen mense graag terugkeer.

Dit het nie baie oorreding gekos vir ds. Riaan Botha om weer hier te kom nesskrop nie.
Hy en sy honde het hul intrek in die Nederduitsche Hervormde Kerk se pastorie op Lydenburg geneem.
Die huis het vir ‘n volle jaar leeg gestaan en in Januarie is daar hard gewerk om klein opgraderings te doen voor die nuwe dominee sou intrek. Die vorige leeraar, ds. Willie Botha, en sy gesin het in Februarie laasjaar na Australië geëmigreer.
Ds. Riaan Botha het min bekendstelling nodig, want hy was ‘n geruime tyd in Steelpoort vóór hy na Standerton verhuis het, waar hy vir nege jaar gewoon en gewerk het.
Na afloop van sy teologiese studies aan die Universiteit van Pretoria is Botha beroep na Morgenzon en Breyten. Die Afrikaanse gemeente in Kitwe, Zambië, was daarna vir agt jaar sy gemeente. Hy het Botswana, Zambië, Zimbabwe en Namibië platgereis. Daar het hy sy twee groot liefdes – kamp en jag – uitgeleef.
“Dit was vir my opmerklik hoe mense vir mekaar omgee in hierdie soms afgeleë gebiede. Dit het my ‘n heel ander perspektief op die lewe gegee,” sê hy oor sy tyd in Zambië.
Soos in Zambië, was hy in Standerton ook by munisipale kwessies betrokke en het hy volgens hom al ‘n doktorsgraad in slaggate. Sy ervaring op die gebied kan net ‘n aanwins vir Lydenburg wees.
Dis alombekend dat 2020 nie ‘n maklike jaar vir die kerke was nie.
“Ek het egter ondervind dat die inperking ‘n groot impak op die geloofslewe van die samelewing gehad het. ‘n Nuwe manier van uitreik na mekaar het gestalte gevind en lidmate kon interaktief aan dienste deelneem.
“Met soveel preke wat op sosiale media versprei is en predikante wat aanlyn-dienste gehou het, het die liturgie nie agterweë gebly nie. Dit was verblydend om die impak van die nuwe manier van kerkbywoning te ervaar,” het Botha genoem.
Botha verdeel sy tyd tussen Steelpoort en Lydenburg en het reeds Sondag sy nuwe amp ingeneem.
• Gemeentes is welkom om kerknuus met Steelburger/Lydenburg Nuus te deel.

Lees ook: Nuwe dansstudio lok kreatiewe voete na vore

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button