‘n Kykie na die wêreld van Sandra Jacobs
Haar jare lange betrokkenheid by feeste, liefdadigheidsprojekte en die bemarking van die omgewing maak haar die ideale persoon vir die uitdaging.

Sandra Jacobs is lank reeds onherroeplik deel van die Laeveld en sy mense. Toe sy onlangs aangewys is as president van die Kruger Lowveld Chamber of Business and Tourism (KLCBT), was daar baie min mense wat nie dadelik geweet het wie sy is nie.
Haar jare lange betrokkenheid by feeste, liefdadigheidsprojekte en die bemarking van die omgewing maak haar die ideale persoon vir die uitdaging.
“Die pos gaan meestal daaroor om verhoudings te bou en te onderhou in die gemeenskap,” vertel Jacobs.
“In hierdie tyd is dit baie belangrik. Die enigste manier waarop ons Covid-19 gaan oorleef is deur verhoudings te bou om mekaar te help en te ondersteun. Die dorp se welstand hang daarvan af.”
Jacobs is al lank betrokke by die sake- en toerisme-organisasies in Mbombela. Sy was deel van die Nelspruit-sakekamer en die Nelspruit-publisiteits-vereniging, en was aktief betrokke by die KLCBT.
Sy het onlangs ‘n wegbreek vir sakebestuurders gereël in samewerking met die Pinky Phosa Solutions Foundation ten bate van CANSA, waar sy ook ‘n vrywilliger is.
LEES OOK: Rangskik só jou pokergesig vir liefdadigheid
Gemeenskaps-byeenkomste soos die Night of 1 000 Stars is ook een van Jacobs se breinkinders. Night of 1 000 Stars word een keer ‘n jaar in die Sonpark Boulevard gehou. ‘n Ete met ‘n groot verskeidenheid disse word onder die liggies wat oor die straat span, voorgesit. Elke jaar is daar ‘n tema waarvolgens mense aantrek.
Restaurante van die Laeveld bedien driegangmaaltye in die straat, terwyl gaskunstenaars die gehoor vermaak. Oor die afgelope 15 jaar is daar met hierdie projek reeds meer as R1,2 miljoen vir CANSA ingesamel.
“Jare gelede toe die streeksdiensterade nog bestaan het, is ek aangestel om ‘n streeksfees namens hulle te reël. Die Laeveld Leeufees het in 1989 plaasgevind en was Nelspruit se eerste groot fees. Dis was in die middedorp en daar was meer as 30 000 besoekers,” vertel Jacobs.
Dit is hier waar Jacobs vir Andy Lubbe, medestigter van Innibos, ontmoet het.
“Ek en Andy het op ‘n stadium baie saam gesing. Ons was Nelspruit se eie wedding singers,” lag sy.
Sy en Lubbe het saamgewerk om die Innibos Nasionale Kunstefees in 2004 die lig te laat sien. Die fees het intussen gegroei tot een van die grootstes en bestes in die land.
LEES OOK: Westergloed Gemeente hou mini-basaars om fondsinsameling moontlik te maak
“Die Laeveld is ‘n fantastiese plek vir ‘n kunstefees en ons wou dit met die res van die land deel en seker maak dat die fees nasionaal erken word. Dit moes die kunste, maar ook toerisme en sake, bevorder. Ons doelwit is nie noodwendig om elke jaar groter te word nie, maar ons wil verseker dat die fees elke jaar net beter word,” sê Jacobs.
“Die heel eerste Innibos bly steeds my gunstelingfees. Dit was glad nie perfek nie, maar dit was nog altyd vir my lekker om iets te sien gestalte kry wat voorheen net in mense se koppe bestaan het!”
Die Covid-19-pandemie het beteken dat Jacobs en die Innibos-span vanjaar nuwe planne moes maak.
“Ons kon ongelukkig nie verlede jaar ‘n Innibos in sy gewone formaat aanbied nie. Ons het wel in Junie ‘n klein digitale fees aangebied. “Hierdie jaar beplan ons ander moontlikhede, soos radioprogramme waarin ons onderhoude met kunstenaars voer en verskeie in-jou-huis-konserte,” sê sy.
“Ons sal ‘n nuwe feesdatum aankondig sodra die verbod op openbare geleenthede opgehef word. Ons kan egter nie net in die hoekie sit en wag vir beter dae nie. Ons moet aanhou planne maak om die fees volhoubaar te maak.”
Innibos beoog ook om vanjaar met behulp van befondsing van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief verskeie projekte aan te pak. Daar is onder andere planne om ‘n wegbreek vir skrywers in Kaapsehoop aan te bied en om werkswinkels saam met die Nelspruit Eisteddfod te reël.
Jacobs is gebore in Ixopo, KwaZulu-Natal. Haar ouers het by die Ixopo Hoërskool skoolgehou en dit is waar hul gebly het totdat sy vier jaar oud was. Van hier af is hulle Durban toe, en toe na Kokstad waar sy haar laerskooljare voltooi het. Sy het aan Hoërskool Voortrekker in Pietermaritzburg gematrikuleer.
Na skool het sy grafiese ontwerp en bemarking aan die Pretoria Universiteit studeer. Na haar studies het sy by KMP, ‘n reklameagentskap in Johannesburg, gaan werk.
Sy het in 1986 saam met haar man, Kobus, Mbombela toe verhuis. Sy was toe swanger met hul eerste kind, Lindi. Jacobs het ook twee seuns: Francois, ‘n voltydse akteur, en Louis, wat tans in New York woon.
LEES OOK: Die dood van geliefde Alex Craven laat ‘n reuseleemte
