Monstergate
Boere en hul personeel het verlede week die R36, die Badfonteinpad, op eie onkoste herstel.
“Ons moet hierdie pad elke dag ry. As die vragmotors ons nie van die pad af probeer druk nie, moet ons nog uitswaai vir die groot slaggate ook,” het een gasteplaaseienaar gesê.
Die slaggate vermenigvuldig ten spyte van die provinsiale Departement van Openbare Werke, Paaie en Vervoer se pogings tot deeglike herstelwerk op die R36 en R539 (Schoemanskloof) die afgelope drie jaar. En hierdie keer is padgebruikers warm onder die kraag.
Grondeienaars van die Badfontein-omgewing het reeds vir jare ‘n stryd teen die swak R36 wat elke keer net plek-plek reggemaak is. Die department is besig om die pad te herstel en groot dele daarvan is wel nuut.
Lees ook: Nuwe dansstudio lok kreatiewe voete na vore
Die probleem is egter die mans wat grond en sand langs die skouers uitspit en gate opvul vir ‘n geldjie van motoriste. Dit veroorsaak weer slote langs die skouer en ‘n groter kans vir vragmotors en voertuie om daarin vas te sit.
Verskeie ongelukke het sedertdien plaasgevind en motoriste moet uitswaai vir slaggate, loodreg in die pad van aankomende vragmotors in. Die vragmotorbestuurders weier om op die skouer te ry.
Verskeie klagtes is aangemeld waarin die openbare beskermer versoek is om die saak met die department op te neem. Volgens die kantoor van die openbare beskermer in Mbombela, is hulle in samesprekings met die department oor die saak. Hulle kon egter nog nie op hierdie stadium verdere kommentaar gelewer het nie.

