Cobie haal eersteplek in driekampkampioenskappe
Om marathons en ultramarathons te voltooi is vir enige atleet 'n prestasie. Om drie items binne 'n uur en 46 minute te voltooi, verg egter 'n spesiale soort uithouvermoë.
Die superfikse Cobie Steinberg (69) het pas in Bloemfontein ‘n draai gemaak by die 2021 Suid-Afrikaanse Nasionale Driekampkampioenskappe op Maselspoort. Sowat 2 000 deelnemers het aangetree vir die tweekamp- en driekampbyeenkomste.
Sy het daar ‘n eerste plek verower vir veteraandames, 70-74 jaar. Steinberg het die naelloopformaat gekies, wat uit ‘n 750 m-swem, 20 km-fietsry en 5 km-draf bestaan.
“Vir baie mense klink die 5 km-draf nie na baie nie. Maar nadat jy amper ‘n kilometer geswem het en 20 km fietsgery het, is dit vir my die ergste. Ek het onlangs in die Lydenburgdam begin oefen vir oopwaterswem saam met ‘n groep wat vir die Midmarmyl voorberei het. Dit het my baie gehelp,” het sy vertel.
Steinberg het ook in 2018 in Australië aan die Wêrelddriekampkampioenskappe deelgeneem, en daar 23ste uit die 36 deelnemers geëindig.
