Komati Akademie vereer hul toppresteerders virtueel
Tydens die Covid-19-pandemie moes Komatipoort Akademie uit die boks uit dink om te verseker dat leerders steeds erkenning vir hul harde werk tydens die 2020-skooljaar sou kry.
Die eerste sessie was nét voor die 2020-matriekeindeksamen in die saal gehou, waartydens slegs die matriekleerders hul akademiese pryse ontvang het.
Daarna is die res van die skool se leerders tydens ‘n virtuele prysuitdeling op 9 April vereer. Ouers kon op Facebook inteken en die verrigtinge in werklike tyd volg.

Die topleerders van 2020 was Eghardt Maritz vir Afrikaans, Engels en rekeningkunde, Lodewyk Ellis vir wiskunde, wetenskap en rekeningkunde, Salome Steenkamp vir toerisme en Johan van der Merwe vir besigheidstudies.

Eghardt Maritz was die jaar se algemene toppresteerder.
Daar was dalk min sportgeleentheid tot en met einde Maart 2020, maar daar was darem nog interne redenaarskompetisies, deelname aan die Voortrekkerbeweging, tennis, atletiek, swem en tweekamp.

Foto’s: Zarlia Engelbrecht
Van die leerders wat benewens akademie ook op provinsiale vlak sportprestasies behaal het, is Owen Ngwenya in hoogspring en Kobus en Ashlee Lourens, en Christn en Zarlia Engelbrecht, in tweekamp.

Nie-provinsiale individuele laerskoolprestasies sluit in Regard Small in swem, Janie van Staden vir beide beste dogtertennisspeler en volharding, Luan Mare vir beste tennisspeler en Adine Smit wat die Ditmaaksaak-trofee vir Afrikaans in gr. 5 ontvang het.
Die skool is vasbeslote om nóg beter prestasies in 2021 te behaal.



