2 500 km per trekker vir liefdadigheid

Dr. André Hattingh het Sondag 2 Mei hier aangedoen vir die eerste stop van sy 2 500 km-rit deur vyf provinsies. Hy het vir die Soli Deo Gloria Sorgsentrum matrasse, babakos en ander voorraad afgelaai.

Daar het groot opgewondenheid geheers toe Hattingh met die splinternuwe John Deere 6095B geborg deur Mascor in Rocky Drift, Witriver, opgedaag het. Die kinders, wat reeds so min het, het kleingeld bymekaar gemaak en dit vir hom op letters op die vloer uitgepak sodat dit “Soli” spel, as hulle bydrae. Pediatric Care Africa (PCA) ry elke Februarie met motorfietse sowat 7 036 km deur Suid-Afrika as deel van ‘n fondsinsamelingsprojek, maar Hattingh is hierdie keer alleen op die pad.
Hy is reeds 30 jaar bemoeid met die verligting van hongersnood. Hy het tydens die volksmoord en Rwanda as vrywillige dokter gewerk. “Daar is so ‘n groot nood in ons land. PCA staan al reeds jare mense met gratis mediese hulp by, en die vraag na ons dienste styg geweldig. “Ons tradisionele metodes van fondsinsameling, soos gholfdae en gala-etes met veilings, word nie tans toegelaat nie weens die inperking, en dit het ons gedwing om ons fondsinsamelingsmetodes te heroorweeg. Baie sakeondernemings en vriende borg my per kilometer en so hoop ons om ‘n paar rand vir ons stigting in te samel. Wat die impak van die trekker se geskud en ruk op my gewrigte en rug gaan wees, sal net die tyd leer,” het Hattingh lighartig gesê. Die projek se naam is “On Track-Tor”. Daar is ook ‘n splinternuwe sleepwa aan die trekker gehaak, sodat Hattingh skenkings langs die pad kan oplaai.
Die beoogde roete loop deur Thabazimbi na Koster, Wolmaransstad, Boshof, Winburg, Clarens, Colenso, Kingsley, Dundee, Piet Retief en Badplaas. Hy sal op Sondag 15 Mei weer terug wees in Witrivier as alles volgens plan verloop. Individue en sakeondernemings wat steeds bydraes wil maak, kan die kantoor by 076-229-5663 skakel.

Lees ook: Twee sterf toe motor middeldeur skeur

Back to top button