Bekende inwoner, geliefde sakeman sterf
'n Pragtige mens van binne en buite. Dit is hoe mense PW Luies (47) beskryf. Luies, die mede-eienaar van Longtom SUPERSPAR, is Maandag 7 Junie oorlede.
Hy het aanvanklik goed op die behandeling reageer en is ontslaan nadat hy met Covid-19 gediagnoseer is en tuis aangesterk het. Luies was in 2005 met nie-Hodgkin limfoom gediagnoseer toe hy nog bestuurder van die Tasbet SPAR in eMalahleni was, maar was in remissie. Hy en sy vrou, Leana, het die pragtige laventelplaas, Lavanta Floreciente Dios Inspiró, op die Mosterdhoek-pad bedryf waar hy ook ‘n perskeboer was. Inwoners het die plaas se gasvryheid met die onlangse laventelfees en Kersmark geniet. “Hy kon sy liefde vir die natuur hier uitleef en het veral die perskeboerdery geniet. Valskermsweef was een van sy groot passies. Sy dood is vir ons as familie steeds onwerklik. Ek moes self eers Maandag ‘n Covid-toets ondergaan na sy dood en kon my kinders, Danika (21) en Zander (19), eers Dinsdag sien. Ek wil niemand uitlaat nie, daarom bedank ek al die mediese personeel, familie en vriende wat ons in hierdie tyd ondersteun het,” was Leana se woorde. PW het ‘n groot rol by die Hoër- en Laerskool Lydenburg gespeel toe die kinders nog op skool was. Zander was die Hoërskool Lydenburg se hoofseun in 2020 en het by Danika aangesluit vir sy studies by die Noordwes Universiteit Potchefstroom-kampus aan die begin van die jaar.

André du Plooy, PW se swaer en vennoot, het dit beaam dat die dorp en SPAR Laeveld geskok is oor sy skielike heengaan. “Soos wat die boodskappe gister ingestroom het, het dit net weer duidelik geword hoe geliefd PW was. Ons het die laaste tien-en-‘n-half jaar ons kantoorspasie gedeel en Longtom SUPERSPAR saam bedryf. PW was een van daardie mense by wie winkel toe gaan ‘n kuiersessie geword het. Klante het altyd eers by hom vasgesteek en gesels. Ek kan hom as ‘n regverdige, netjiese en gedissiplineerde mens beskryf wat baie vir die personeel ook omgegee het. Ek en my vrou Beryl is dankbaar dat ons ‘n vriend en broer soos PW gehad het en ons sal poog om elke klant met dieselfde passie te bedien as waarmee PW hulle bedien het,” het Du Plooy gesê.
- Longtom SUPERSPAR sal Saterdag 12 Junie gesluit wees om weens Covid-19 protokol twee kerkdienste te hou.

