Warm etes by STEP vir dié sonder heenkome
Tussen 80 en 130 maaltye word daagliks by die Step Foundation se sorgsentrum voorsien, en meer vrywilligers word dringend benodig. Die lang ry minderbevoorregtes kan reeds van vroegdag voor die kantore in Viljoenstraat gesien word.
Step is ’n organisasie sonder winsoorgmerk en bied al vir die afgelope vyf jaar bystand aan hulpbehoewende persone in die Lydenburg-gemeenskap. Die aantal geregistreerde persone op hul boeke verteenwoordig ongeveer 150 huishoudings. Die organisasie is ook betrokke by plaaslike afreeoorde waar bejaardes minstens een maal per week ’n gebalanseerde maaltyd ontvang.
Lees ook: Hoërskool Lydenburg maak sy eeufeesplanne
Hulle ondersteun ook die lede om hul CV’s op datum te bring, bied gebedsbediening aan en ondersteun diegene wat met verslawing worstel. Korporatiewe liefdadigheidsbydraes bied ook ’n korting op inkomstebelasting deur middel van ’n Artikel 18A-sertifikaat, wat die Step Foundation kan uitreik nadat so ’n skenking ontvang is. Kos- en klereskenkings is altyd welkom. Diegene wat as vrywilligers betrokke wil raak, kan Hester van Zijl by 083-945-2838 of Rika Saayman by 072-630-8173 skakel.

