Vragmotorkapings neem kommerwekkend toe

Daar is reeds twee verskeie insidente van vermeende vragmotorkaping by die Lydenburg en Belfast SAPD aangemeld.

Op Vrydag 28 Mei om 00:30 is Frikkie Janse van Rensburg na bewering op die R36 sowat 15 km buite Dullstroom op pad na Lydenburg, amper gekaap. Hy is ‘n drywer vir Junior Smith Trucking van Wellington. Die vragmotor was leeg; hy was onderweg om ‘n vrag lemoene buite Ohrigstad op te laai vir die Durban-hawe.

Also read: Only a united effort will save mine belt roads

“Daar was nie staanplek in Dullstroom nie en ek het so ‘n ent buite die dorp afgetrek. Die vragmotor het nog geluier en ek het die verwarmer aangeskakel. Die volgende oomblik het ‘n skoot my ruit getref. Die passasiersruit is ook stukkend geskiet. Die verdagtes het my beveel om uit te klim, maar ek het geweet dit sou die einde van my beteken. Ek het gevoel die vragmotor wou nie beweeg nie; hulle het intussen die sleepwa se rem vasgetrek. Maar ek het die vragmotor met elke bietjie krag daarin skuur-skuur weggetrek. In die 24 jaar wat ek vragmotors bestuur, is dit die eerste keer dat so iets met my gebeur; dis net met die Here se genade dat ek nie raakgeskiet is nie,” het Janse van Rensburg vertel.
Hy het die heeltyd sy ouers en suster, wat in die Paarl SAPD is, op die lyn gehad. Sowat ‘n halfuur later het twee polisievangwaens van Lydenburg hom te hulp gesnel en was dit veilig vir hom om die voertuig te verlaat. Janse van Rensburg het vier bande stukkend gery met die sleepwa se handrem aan, in sy poging om weg te kom.

Die skade aan beide vragmotors se bande soos dit met sleepwaremme wat vasgetrek het moes wegjaag van die vermeende kapers.

Omstreeks 23:00 op Woensdag 9 Junie het dieselfde met Joel Jansen, ‘n bestuurder van Ramgan Logistics, tussen Belfast en Dullstroom gebeur.
“Ek vermoed hulle het die lugpyp van die remme losgeruk of afgesny toe ek stadig deur ‘n slaggat gery het sowat 30 km voor Belfast. Ek het op ‘n stadium gehoor iets sleep agter by die sleepwa, en het uitgeklim om ondersoek in te stel.  Daar was egter niks wat ek daar kon regmaak nie. Ek het my baas gebel en hy het gesê ek moet net tot in Belfast probeer ry. Sowat 5 km voor Belfast het ‘n Toyota Quantam sy ligte afgeskakel toe dit agter my vragmotor begin ry. Ek het baie stadig gery en die volgende oomblik was daar ‘n skaduwee langs die vragmotor. Toe kyk ek in ‘n rewolwer se loop vas. Twee verdagtes het op die passasiersruit geskiet en die derde een het voor die vragmotor gestaan. Toe gee ek vet; teen daardie tyd het ek ook nie omgegee om die bande stukkend te ry nie. Die verdagtes het weggespring. Hulle het op my gegil om die deure oop te sluit. ‘n Sekuriteitsmaatskappy het my in Belfast gehelp om die polisie te kontak en toe my vragmotor help oppas tot die volgende oggend,” het Jansen gesê.
Die polisie op Dullstroom, Lydenburg en Belfast het bevestig dat sake geopen is en dat dit ondersoek word. Die vrag-motorbestuurders het bevestig dat ‘n hele aantal van hul kollegas van soortgelyke kapingpogings in daardie gebied vertel het.

Die koël het gelukkig in Joel Jansen se kantspieëltjie vasgeslaan.

LEES OOK: Hoërskool Lydenburg maak sy eeufeesplanne

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button