Nicolene se musiek bekoor
Toe 'n jong sangeres die mikrofoon nader en klanke oor die gehoor begin spoel, is haar passie vir musiek vergestalt.
Boonop word haar eerste enkelsnit, “Winter’s Touch”, tans landswyd op radiostasies gespeel. Dis ‘n treffer op Overvaal Studio, Waterberg Stereo 104.9FM, OFM, Radio Overberg en die stroomdiens, Die Strandloper, in Australië. “Winter’s Touch” is in 2019 deur Hennie Dreyer van Victory Studios op Lydenburg opgeneem. Nicolene Breytenbach (33) is ‘n bekende gesiggie by musiekfeeste, restaurante en danse in die omgewing. Haar passie vir musiek is toevallig aangewakker deur haar vriendin, Vickey de Jager van Ohrigstad, wat verlede week oorlede is. Hulle het ‘n kunsaand bygewoon en Breytenbach het net vir die lekker ingeval en saamgesing. Almal het verstom na haar geluister. De Jager het haar summier in hul boere-orkes, Die Laevelders, opgeneem. Dit was al meer as tien jaar gelede. Sy het ook ingeskryf vir The Voice SA, SA Idols en Die Kontrak. Sy het baie goeie terugvoer ontvang, en dit was vir haar ‘n inspirasie om net harder te werk. De Jager het haar ook aan die ukulele bekendgestel, en sy begelei haarself soms deur saam te tokkel. Sy het haarself die instrument leer speel deur video’s op YouTube te kyk. Na matriek aan Hoërskool Lydenburg, het sy saam met Johan Olivier en sy dogter die groep Citations begin. Hulle was amper elke naweek op die verhoog. Sy doen nou meer solovertonings, maar die pandemie het kunstenaars werklik gekniehalter. Breytenbach het ‘n paar vrae beantwoord vir die lesers om haar beter te leer ken:

• As jou beste vriende gevra word om jou te beskryf, wat sal hulle sê? Wanneer dinge ernstig begin raak, maak ek grappies. Hulle sal sê ek is lief vir die Here en het ‘n hart vir mense. • As jy kon, sou jy voltyds ‘n kunstenaar wou wees? Dit sal ‘n droom wees wat waar word. Ek geniet my werk by Jasmyn Apteek, maar die verhoog bly my eerste liefde. Dit het my ook baie selfvertroue geleer. • Wat sou jy vir jou 20-jarige self wou sê? Hou op om jou te bekommer oor onbenullighede. Glo in jouself, volg jou drome. • Komponeer jy self en skryf die lirieke? “Keenan’s Song”, een van ons gewildste liedjies, is deur Hennie Dreyer van Victory Music geskryf. En Vickey de Jager het “Winter’s Touch” geskryf. Ek los dit eerder vir die bekwames. • Wat was jou ervaring in Amerika? Ek het ‘n Worship U-kursus bygewoon in Redding, Bethel, in 2019. Dis ‘n lofprysingskursus. Ek het mango’s verkoop om geld in te samel. Na die kursus het ek alleen ‘n bietjie rondgetoer om onder meer die Grand Canyon te besoek.

Al Breytenbach se musiek is op webwerwe en sosiale mediaplatforms soos Spotify, YouTube, Apple Music, en nog meer beskikbaar. “Sonder die mense van Lydenburg sou ek nie so ver in my sangloopbaan gekom het nie. Die ondersteuning van my pa, Wynand sr., broer, Wynand jr., Johan Olivier, Hennie Dreyer, Paula Kriek en my vriende gee my die selfvertroue om voluit te lewe,” het dié borrelende jong dame gesê. Breytenbach sien uit daarna om amper weer voltyds voor gehore te staan met die inperking wat weer effe gelig is.
