As daar chenin geskink word, moet ‘n mens groen sien

Hoeveel rokke kan 'n mooi meisie dra? Dit was die tema waarmee Jan Neethling op Donderdag 5 Augustus die Lydenburg Wyngilde-lede en gaste in die verkenning van die chenin-druif se geheime gelei het.

Café Crust was oudergewoonte die gesellige kuierplek vir die gilde se maandelikse proe. Omdat Covid die gereelde wyn-kuiers ingeperk het, was dit geen gewone proe nie. Die singende Neethling het die wynliefhebbers tussendeur vermaak met sy pragtige baritonstem, en met geoefende onderwystalent die basiese kenmerke van die chenin-kultivar uiteengesit.

Die singende Jan Neethling was die aanbieder van die chenin-proe.

As daar aan chenin gedink word, moet daar “groen” gesien word, en jy moet weet dat suur een van sy outomatiese kenmerke is, het Neethling verduidelik. Blom- en vrugtegeure kan deur die wynmaker ingebou word – nóg ‘n rok wat die chenin-meisie kan dra. Een van die voordele van chenin se dun dop is dat die botritisfungus suksesvol ingespan kan word om die heerlikste dessertwyne te maak. Dit kan met reg ‘n aandrok met sy diep, donker kleur voorstel.

Renier en Michelle van der Merwe.

Die wenwyn van die aand was Arendsig se Site Specific 2020, en Bosman se Generation 8, 2020, teen R90 elk, is gekies as die beste waarde vir geld. Die ander vier wyne was die chenin-vonkelwyn Jean Daneel MCC, die gewilde Delheim Wild Ferment 2019, Du Toitskloof se 2020 Chenin en die meer as spesiale Miles Mossop Kika Noble Late Harvest 2019 waarvan elkeen net ‘n knertsie kon proe. Die gilde verwelkom alle wynliefhebbers om op ‘n gesellige manier wyne te leer ken. Op Donderdag 19 Augustus om 18:00 is die bekende (eintlik beroemde) meester van sauvignon blanc, Bartho Eksteen van die Hemel-en- Aarde-vallei, die gilde se aanbieder. Belangstellendes moet vroegtydig by Louné Mellet by 082 524 8336 of loune@potatoseed.co.za bespreek.

Herma en dr. Jakkie Swanepoel.
Madelein en Cobus Buitendag, en Louné Mellet.

Lees ook: Lydenburg vloed – 20 jaar na verwoesting

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button