Soli ’n tuiste van respek en volharding in Jesus
Met ’n passie vir mense het Gerda Venter se baie paaie in die lewe haar na dié dorp gelei.
Met ‘n passie vir mense het Gerda Venter se baie paaie in die lewe haar na dié dorp gelei.
Dié moderne en modieuse vrou het in 2016 die bestuur van die Soli Deo Gloria Sorgsentrum (bekend as Soli) oorgeneem.
Sy het voortgebou op ‘n droom om aan haweloses weer ‘n tuiste te bied.
“Ek is oorspronklik van Silverton, Pretoria. Ek is in 2009 met beenmurgkanker gediagnoseer en besef ek gaan iets drasties in my lewe moet verander. Ek het my werk as finansiële adviseur verloor. Hoekom word mense wat deur sulke trauma gaan, eenkant toe geskuif? Ek het ook die gebruik van my linkerhand verloor en ek het weer eens my lewe aan die Here toegewy,” het Venter gesê.

Haar man, Marius Venter, het met die begin van die Covid-pandemie in 2020 afgetree om haar voltyds by Soli te ondersteun. Sy bedank ook haar twee dogters, Bernadette Kirsten van Kathu en Bonita van Rooyen van Richardsbaai, wat haar albei by Soli ondersteun.
Soli sorg vir mense, van kinders tot bejaardes, gestremdes, haweloses, en enigiemand wat deur trauma geraak is.
Net die voorlaaste Vrydag het daar twee bejaarde mans in ‘n bakkie opgedaag, verstote en sonder slaapplek. Met die hulp van Deomarlouw Engineering is daar ‘n Wendyhuis vir hulle opgerig.
Gerda sê alles wat hulle doen is op ‘n Christelike grondslag gebaseer, en is Woord-gefundeerd. Dit is ‘n plek van versorging, hoop en lewe vir, soos sy
dit stel, Jesus se afvlerkkinders van jonk
tot oud.
“Mense wat by ‘n kruispad gekom het nadat hulle in hul lewens verkeerde keuses gemaak en besluite geneem het, wat nie meer weet hoe nou verder nie, kan hier kom aanklop,” sê sy. “Ons glo dat almal nóg ‘n kans verdien, aangesien ons as mense nie oor mekaar durf oordeel nie.”
Sy het diep spore in Lydenburg en omgewing getrap, en is reeds ‘n paar jaar betrokke by die Vryheidsfront Plus.
Gerda sê dat Soli ook nie sommer net nóg ‘n plakkerskamp of nedersetting is nie, aangesien hulle meer as net met kos en klere in materiële behoeftes voorsien. “Ons bring lewe en herstel gebaseer op God se Woord. Ons gee kos vir die liggaam, siel en gees.”
Reëls by die sentrum is streng maar regverdig. Hulle leuse is om goed te doen wanneer hulle sake doen. Elke dag van die week word vooruit beplan. Daar is pligte wat nagekom moet word en sy hou ook beradingsessies en groepterapie. Die inwoners word vaardighede aangeleer.


Die mense van Lydenburg kom ook gereeld kuier en werkswinkels aanbied. Groepe soos Alkoholiste Anoniem vergader ook hier, en enigiemand met ‘n verslawing mag aansluit.
Terwyl werkskepping een van die sentrum se hoofdoelwitte is, glo die Venters dat alles met passie, roeping, wedersydse respek, integriteit, lojaliteit, deursettingsvermoë en volharding in Jesus moet gebeur.
“Ek weet dat hierdie artikel weer die kritici gaan uitlok. Ons het al soveel oorkom en hofsake gewen en ook skoon oudits gehad. Daar is niks by hierdie sentrum wat ek nie as positief kan boekstaaf nie, en elke klagte word ondersoek. Ek is so dankbaar dat die mense van die Laeveld en landswyd ons ondersteun. Dis verblywend uit hoeveel oorde daar hulp opdaag,” het Gerda gesê.
Dit is duidelik dat geloof ‘n groot rol vir haar en die ander bestuurslede van
Soli speel.
So ‘n sentrum het natuurlik altyd behoefte aan ondersteuning, toerusting
en lewensmiddele. Enigiemand wat graag hiermee wil help, kan haar by 072 402 6595 skakel.
Lees ook: Leon is Agri Limpopo se Jongboer van die Jaar

