Top wynmaker lê besoek af by plaaslike gilde
Bartho Eksteen, een van die land se mees bekroonde wynmakers, het die Lydenburg Wyngilde op Donderdag 19 Augustus besoek.
Eksteen het een van die gesogste sauvignon blanc-wyne in die land, Houtskool, voorgesit. Dié wyn is uiters eksklusief en het verskeie kere die sauvignon blanc van die jaar gewen. Hy is ook bekend vir sy Rhône[1]styl roséwyne genaamd Blom en Ouskool. Een van die suksesvolste sauvignon blanc-wyne in die geskiedenis van die Kaapse Wynmakersgilde Veiling, is Vloekskoot.
Dit het vyf sterre in die Platter-toekennings ontvang en was onder die top vyf in die Tim Atkins Internasionale Sauvignon Blanc[1]toekennings. Eksteen is ’n lid van die gesogte Kaapse Wynmakersgilde, nog ’n veer in sy hoed. Sy liefde vir wynmaak is gevorm oor generasies vanaf die 1700’s. Sy aanstelling in 1993 by die Botrivier-wynkelder het hom die Walkerbaai-wyk se eerste amptelike wynmaker gemaak. Eksteen was ook betrokke by die wynboerdery van Constantia na Loevenstein (Welgemoed) en La Bri in Franschhoek.

In 1996 het hy die Generaal Smuts-trofee vir Wildekrans se Cabernet gewen. Hy het dit opgevolg by Sumaridge en Raka, voordat hy Hermanuspietersfontein gestig het, die land se eerste stedelike wynkelder, waar hy beide wynmaker en direkteur was. Sy uitnemendheid daar het hom in 2010 tot die Diners Club se Wynmaker van die Jaar gelei.

Deur die Diners Club se befondsing kon hy en sy vrou, Suné, hul droom van ’n wynakademie en -skool verwesenlik. Hiér onvang jongmense die geleentheid om die kuns en kultuur van wynmaak aan te leer. In 2014 het hy sy hoed by Hermanuspietersfontein opgehang en sy energie teruggegooi in sy eie handelsmerk, Bartho Eksteen Wines, en die wynskool.
Die geregte vir die wynproe is oudergewoonte voorberei deur André du Preez van Café Crust, wat ’n braaivleis geïnspireerde ete vir fynproewers opgetower het. Om by hierdie gilde aan te sluit, kontak Gerda Whitehorn by 079 515 7799.







