Sandra Prinsloo lewer ‘n kragtoer op die verhoog

Elke nou en dan is daar 'n teaterstuk wat 'n mens nie durf misloop nie.

Oskar en die pienk tannie, met teaterdoyenne Sandra Prinsloo op die verhoog, is só ‘n magiese teaterbelewenis; een wat ‘n mens totaal ontredder en oorrompel met ‘n verpletterende besef van die broosheid en vlugtigheid van die lewe.

Oskar en die pienk tannie is op Saterdag, 25 September, te sien tydens die i’langa Mall se Gaan Bos inniMall, in samewerking met Innibos Nasionale Kunstefees. Dit begin om 11:00 en kaartjies kos R100.

Sandra Prinsloo op die verhoog. > Foto: Pieter Lombard

Dié drama deur Eric-Emmanuel Schmitt is deur Naòmi Morgan in Afrikaans vertaal. Die teks is verruklik; dit is hartseer en dit is snaaks. Prinsloo vertolk die rol van ‘n 10-jarige seuntjie wat terminaal siek is, maar sy is ook die ouma en ‘n paar ander karakters in die kindersaal. Sy vervel naatloos en gee lyf aan ‘n reeks karakters wat bybly.

ALSO READ: Hilmar Backer – a life lived to the full

Nadat dit vir die eerste keer in 2013 op die planke was, het die toekennings ingestroom. By die KKNK het dit drie Kannas verower en by die Fiësta-toekennings het dit skoonskip gemaak deur as die beste teaterproduksie bekroon te word. Prinsloo is as die beste aktrise en Lara Bye die beste regisseur aangewys.

Oskar het kanker en sy reddingsboei is ouma Rosa, ‘n bejaarde vrou wat elke dag die kinderhospitaal besoek. Sy is wys, pittig en goddeloos. Om hom te vermaak versin sy staaltjies oor haar dae as rofstoeier, die wildewoeste Weskus-wonder. Maar sy beskik ook oor morele dapperheid om nie vir die kind te lieg nie. Hierdie is ‘n kragtoer wat jy nie mag misloop nie!

i’langa Mall het een van die Ster-Kinekor-teaters spesiaal ingerig vir hierdie vertonings. Daar gaan streng by die inperkingsmaatreëls gehou word en slegs ‘n beperkte aantal kaartjies is beskikbaar.

Alle kaartjies vir Gaan Bos inniMall is by i’langa Mall se bestuurskantoor, naby die Mugg & Bean-ingang, te koop.

Die volledige program is by www.ilangamall.co.za en www.innibos.co.za beskikbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button