Local news

Formidabele advokaat verruil hofsaal vir beskuitbak

Met die hoogste vonnisse wat ooit vir renosterstropers opgelê is, het Adv. Ansie Venter bewys dat georganiseerde misdaad suksesvol bekamp kan word.

Renoster-stropersindikate in Mpumalanga is vir bitter min dinge bang. Om nie ‘n dik pak kontant in die sak te hê nie, is een. Die naam Ansie Venter is die ander.

Adv. Venter het oor die afgelope twee dekades ‘n formidabele reputasie as vegter teen stroper-sindikate en georganiseerde misdaad opgebou.

In April 2007 is sy as die eerste spesialisaanklaer vir georganiseerde misdaad in die Republiek aangestel.

“Hier het ek aan ‘n wye verskeidenheid sake gewerk wat gewissel het van broodboomstropery en motordiefstal-sindikate tot dwelmsmokkelary,” sê sy.

Haar liefde vir die natuur het in 2012 ‘n wending geneem toe sy uitsluitlik op die vervolging van renosterstropers begin fokus het.

“Stroping het hoogty gevier en ons moes wyd reis om by al die sake uit te kom.”

In Maart 2017 het adv. Isabet Erwee, in haar eie reg ‘n hoog aangeskrewe renosterstroopaanklaer, by Venter aangesluit as stigterslede van die Skukuza-spesialisstreekshof, wat uitsluitlik renostersake verhoor.

“Met ‘n 100% skuldig-bevindingkoers, asook van die hoogste vonnisse wat nog ooit in SA vir stropers opgelê is, het ons gewys die stryd teen sindikate suksesvol kan wees,” sê Venter.

Adv. Ansie Venter.

Ter erkenning van hul uitmuntende werk in die stryd teen renosterstropery, het Venter en Erwee in 2015 die silwermedalje van die Prins Albert II van Monaco-stigting vir hul bydrae tot renosterbeskerming ontvang. In 2016 het Venter die goue medalje in dié kategorie gewen.

LEES OOK: Suspected poacher arrested in Kruger Park

In Desember 2020 het Venter haar toga by die Skukuza-streekhof opgehang en as senior advokaat by die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek aangesluit.

Hier het sy verskeie hoëprofielsake hanteer.

LEES OOK: The Advocate that fights in a dress talks femininity and success

Een hiervan was die eerste terrorisme-saak wat ooit in Mpumalanga ingevolge die Wet op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terrorisme en Verwante Bedrywighede verhoor is.

Die beskuldigde is aangekla van terrorisme, sowel as die onwettige besit van vuurwapens, ammunisie en plofstof.

LEES OOK: Weesrenosters gee geboorte aan ‘kabouter’-bulletjie by Care for Wild Rhino Sanctuary

Die Hooggeregshof in Middelburg het die beskuldigde in 2022 tot twee lewenslange tronkstraf gevonnis.

“My loopbaan was goed vir my. Ek het hoogtepunte bereik wat ek glo min ander het.”

In Junie 2025 het Venter finaal uitgetree.

Sy sou op kontrak saam met die gedugte brig. Danie Hall van die Mpumalanga Valke werk om twee groot renosterprojekte, Broad Bill en Blood Orange, af te handel. Dit het egter nie gerealiseer nie.

“As afgetredene doen ek nou iets wat ek nog nooit gedoen het nie – ek bak beskuit!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button