Nuwe film vier die menslike gees

Die baanbrekersfilm, gebaseer op die ware verhaal van ’n jong man in die 1960s wat ’n storieverteller in die tronk word, se amptelike lokprent is pas bekendgestel.

Suid-Afrikaanse gehore kan uitsien na die vrystelling van Daryne Joshua se regisseursdebuut, Noem My Skollie, wat landswyd op 2 September 2016 uitgereik word.  Die film wat afspeel op die Kaapse Vlakte en in Pollsmoor-gevangenis is gebaseer op die lewe van draaiboekskrywer John W. Fredericks.

 Noem My Skollie vertel die verhaal van vier tieners, AB en sy drie beste vriende Gimba, Gif en Shorty wat in die armmoedige bendewêreld van die Kaapse Vlakte grootword.  Wanneer AB deur ’n traumatiese ondervinding gaan, besluit hulle om ’n bende te stig om hulself te beskerm.

Uituindelik word die ouer AB (Dann-jacques Mouton) en Gimba (Gantane Kusch) gearresteer tydens ’n inbraak en word hulle tot twee jaar tronkstraf gevonnis.  Dit is hier, in die gewelddadige omgewing van die tronk, dat AB besluit om sy talent vir storievertel te gebruik om die geharde misdadigers te vermaak.

Noem My Skollie is ’n grootskerm-rolprentervaring wat kykers sal meevoer na ’n wêreld op die Vlaktes wat nog nooit op so ’n outentieke manier uitgebeeld is nie.

Back to top button