Man wat sakke brand gesoek
Daar word gesoek na ’n man wat Woensdagnag ’n groot staal rommelhouer aan die brand gesteek het agter die Midwater Sentrum.
Videomateriaal wys hoe die man teen 22:30 agter die sentrum stop, ’n vuur in die staalhouer maak en begin om swartsakke vanuit sy motor se agterste sitplek tot in die houer te laai.
Hy stook so tussendeur kort-kort aan die vuur deur nog brandmateriaal, onder andere ’n pizzaboks, daarop te gooi. Hy het altesame nege swartsakke, twee papiersakke en wat soos ’n kledingstuk lyk in die asblik gegooi.
’n Sekuriteitswag wat aan diens was, het kort daarna verskeie harde slae gehoor en daar word vermoed dat iets in die houer ontplof het. Wagte het die vuur met ’n brandblusser geblus.
“Wat verdag is, is dat mense gewoonlik hulle swartsakke afgooi en ry. Hierdie man het baie moeite gedoen om seker te maak dat alles uitbrand,” het Lourens Kritzinger, die hoof van die sentrum se sekuriteit gesê.
Enige iemand wat die persoon herken, word versoek om mnr. Kritzinger te kontak by 071 641 4149.
•Die man het gery in ’n wit voertuig, moontlik ’n Kia Picanto of Ford Fiësta.
