News

Kaping van ouers en kinders bevestig – volle verhaal vertel

Blouligbende slaan weer toe.

Groot gedeeltes van ‘n stemboodskap wat die rondte doen rakende ‘n kaping van ouers en hul kinders, is die waarheid.

Dit was egter nie mans wat soos verkeersbeamptes gelyk het nie, maar beslis die blouligbende wat soos polisiemanne geklee is en op die N12 al talle mense gekaap en beroof het.

Die stemboodskap het ook gesê dit het gister naby Middelburg gebeur, maar dit het naby eMalahleni plaasgevind Woensdagaand.

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/06/09/ouers-en-kinders-kort-na-mekaar-gekaap-2/

‘n Betroubare bron wat weet wat gebeur het, maar verkies om anoniem te bly, het besluit om die detail te gee, “want mense wat in Katu bly weet nie wat op die N12 gebeur nie! Ons moet die mense waarsku!”

Die ouers en kinders was in twee afsonderlike voertuie vanaf Klerksdorp (Noordwes) na die Nasionale Krugerwildtuin op pad en sou Woensdagaand in eMalahleni oorslaap.

Die ouerpaar het ‘n entjie voor gery en het in eMalahleni gestop en hul bagasie begin afpak.

‘n Paar kilometer voor eMalahleni het ‘n blou VW Polo met ‘n blou lig die jonger paartjie afgetrek. Die vrou se broer was ook in die voertuig.

Die sogenaamde polisieman het die oomblik toe die man sy venster oopmaak om te vra hoekom hulle gestop word, sy hand deur die venster gedruk en die kar afgesluit.

Teen daardie tyd was daar drie kapers wat die twee mans en vrou gedwing het om agter op die sitplek van die Toyota Hilux te gaan sit.

Een van die mans is twee keer deur die kapers met ‘n wapen oor die kop geslaan en hy is ook gewurg.

Daarna is beide mans se hande met kabelbinders vasgemaak en almal is met ‘n kombers oor hul koppe op die agtersitplek laat sit.

Die drie kapers het almal voor ingeklim.

Hulle het omgedraai met die voertuig op die pad en die vrou aangesê om met haar selfoon banktoep geld vir hulle oor te betaal.

By die hotel in eMalahleni het die ouers intussen begin afpak en het die vrou gewonder hoekom die kinders nie aankom nie.

Sy het op die toep op haar selfoon gekyk waar die kinders op die pad is en dadelik gesien hulle het omgedraai en is op die N12 in Johannesburg se rigting op pad.

Hulle het besef daar is fout en het die opsporingsmaatskappy gekontak en self begin jaag in die rigting waar die kinders se voertuig die laaste keer op die toep gesien is.

Die opsporingsmaatskappy het in hierdie die kinders se voertuig op die N12 opgemerk en naby die afdraai na Carnival City langs die kapers inbeweeg.

Die kapers het uitgepring en weg gehardloop.

Die drie in die voertuig, wat gekaap is, het nie geweet wat aangaan toe die voertuig skielik stop nie, want hulle was steeds onder die kombers toegemaak.

Hulle was bang die kapers kom terug en het die vrou voor ingespring en weg getrek om te vlug van hul aanvallers.

Die opsporingsmaatskappy het op hul beurt gedink dit is die kapers wat probeer wegjaag en het die voertuig se wiel papgeskiet.

Daarna het die vrou die kar tot stilstand gebring en het hulle aldrie weer bang plat gaan lê met die gedagte dat dit die kapers was.

Gelukkig het hulle gou gehoor dat dit die opsporingsmaatskappy is.

Die ouers het in daardie paar minute wat bogenoemde gebeur het, nie geweet dat die opsporingsmaatskappy hul kinders veilig gekry het nie en het hulle aangehou jaag om by hulle uit te kom.

‘n Wit BMW, met blou ligte, het hulle afgetrek en het persone, geklee in polisieklere, uitgeklim.

Die man het verskoning gemaak by die ‘polisieman’ omdat hy so vinnig gery het en verduidelik dat hul kinders moontlik gekaap is.

Die ‘polisieman’ se antwoord was egter: “this is also a hijacking”.

Daarna het die kapers ook by hulle in hul VX Land Cruiser geklim en met hulle op die N12 verder gery.

Die kapers het die man ook gewurg voor hulle die paartjie op die agterste sitplek ingeboender het.

Nadat daar ‘n ruk gery is, is die egpaar langs die pad in die veld afgelaai en daar is vir hulle gesê om in die veld in te loop.

Na ‘n paar sekondes het hulle gesien die voertuig is weg en het hulle pad se kant toe geloop, waar ‘n voertuig hulle opgelaai het.

In Vosloorus is hulle by ‘n vulstasie afgelaai waar hulle die familie in kennis gestel het van die gebeure.

Daar is gemeld dat ‘n polisieman van eMalahleni gekontak is Woensdagaand om die gebeure aan te meld, maar hulle het hom dieselfde aand laat weet dat daar ‘n saak in Brakpan geopen is.

Die bron wou nie die slagoffers name op hierdie stadium bekend maak nie, aangesien almal nog aan erge trauma ly.

Die wit VX Land Cruiser is steeds soek. Die registrasienommer is KSR620NW.

  • Deur die jare was daar letterlik al tientalle kapingsvoorvalle op die N12.

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/03/14/blouligbende-en-kapers-het-hoofwee-in-oorlogsone-verander/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button