Ouma vies vir Puma wat nie kan lees nie
Puma het met sy stoute streke en nuwe liedjie groot en klein vermaak terwyl hy kinders by Laerskool CR Swart se veldfees van die belangrikheid van lees geleer het.
Ouma Jeanette Smit (78) was Saterdag só vies vir Puma, wat nie kan lees nie, dat sy hom met ’n paar wilde handgebare reggehelp het.

Die grootmense het dalk die Middelburg Observer se leesprojek by Laerskool CR Swart se veldfees nog meer as die kinders geniet.
Een mamma het Puma vanuit die gehoor gewaarsku: “Jy gaan vandag slae kry!” Dit was nadat die stoute kind nie sy opdragte uitgevoer het soos sy ma gevra het nie.
Veral toe hy sy brood probeer politoer het in plaas van sy skoene, en toe boonop konfyt aan sy skoene smeer, was die gehoor se geduld met Puma op.
Soos altyd het Puma met sy visstok en geliefde hond, Wagter, opgedaag. Dié keer was dit ook die eerste keer dat hy op die maat van sy nuwe liedjie, “Dis lekker om Puma te wees”, opgedaag het.

Die kinders het spontaan saamgedans. Ma Franzette (Van Niekerk) het aan die einde van die toneelstuk vir die kinders vertel waarom lees so belangrik is.
