Opvolg: Mambagif en toe volg die moord
Die geveg tussen die verdediging en die staat, oor die gepasde vonnis vir mev. Ronel Botma, wat reeds skuldig bevind is vir die moord op TC Ciciliato nadat sy Maandag skuldig gepleit het, duur voort in die rondgaande hooggeregshof in Middelburg.
Botma moes Dinsdag die genadelose kruisondervraging van staatsaanklaer Jennifer Cronje verduur.
Me. Cronje het haar met verskeie bewerings gekonfronteer soos dat dit onwaarskynlik is dat sy niemand gehad het om na te vlug nie, dat sy die moord fyn beplan het, vir finansiële gewin gepleeg het en dat die beweerde beserings wat sy tydens die aanrandings opgedoen het onwaarskynlik is omdat daar nie mediese rekords daarvan bestaan nie.
Mev. Botma is herhaaldelik gevra waarom sy nie doodeenvoudig van die situasie af weggevlug het nie. Sy het getuig dat sy vir haar en haar kinders se lewens gevrees het, omdat sy verskeie kere deur die oorledene, mnr. Ciciliato, gedreig is dat hy hulle iets sou aandoen, sou sy hom los of na die owerhede toe gaan omdat hy haar aanrand.
Me. Cronje het aangevoer dat mev. Botma die moord fyn beplan het en haar vriendin saam genooi het om te gaan roomys eet, op die aand wat mnr. Ciciliato vermoor is, sodat sy ‘n waterdigte alibi sou hê. Mev. Botma het dit ten sterkste ontken.


Mev. Botha het getuig hoe sy finansieel verlam was deur die oorledene nadat sy haar erfporsie wat ‘n huis in Dullstroom asook verskeie erwe daar en in Middelburg ingesluit het, moes verkoop om mnr. Ciciliato uit ‘n finansiële verknorsing te red. Die staat het haar gekonfronteer met die feit dat sy ter enige tyd ‘n prokureur kon nader om haar 50% aandeel in die gebou, wat hulle saam besit het, te bekom.
“As ek hom sou dagvaar, sou hy my beslis vervolg het. Hy het gedreig dat hy my gaan dood maak,” het mev. Botma geantwoord.
Me. Cronje het aangevoer dat mnr. Ciciliato kort voor sy dood planne gehad het om in Knysna af te tree en mev. Botma dan alleen sou agter bly en van hom ontslae sou wees. Mev. Botma het gesê dat hy vandat sy hom leer ken het, in Knysna wou gaan bly, maar dat dit net drome was en nooit sou realiseer nie.
Die onderwerp van lewenspolisse op mnr. Ciciliato se naam asook ander erflatings is deur me. Cronje geopper. Die staat het tot die gevolgtrekking gekom dat mev. Botma ongeveer R5 miljoen sou erf. Sy is daarvan beskuldig dat dit een van die redes vir die moord was.
“Ek het niks gekry nie. Ek het net vrede gesoek,” was mev. Botma se antwoord op die bewerings.
Mev. Botma se regsverteenwoordiger, adv. Sollie Joubert, het tydens herondervraging gesê dat dit duidelik is dat die staat gaan aanvoer dat sy mnr. Ciciliato vir finansiële gewin laat doodmaak het.
Die kwessie van Michael Abrahams, wat hom eers by mev. Botma geskaar het en later staatsgetuie gedraai het, is aangeraak. Mev. Botma het aangevoer dat hul verhouding versuur het toe hy die Cars2000 vertoonlokaal in Cowen Ntulistraat wou huur en sy geweier het, omdat sy gemeen het sy weet nie wat met die besigheid gaan gebeur nie.
Hy het by geleentheid mnr. Ciciliato se broer, Robert, van Johannesburg af laat kom omdat hy volgens mev. Botma se getuienis gemeen het dat daar groot fout is en dat sy broer met hom moet praat oor sy humeur. Hy het ook volgens haar in die oggende vir mnr. Ciciliato kom kuier en gekyk dat hy ‘n kalmeerpil drink.
Mnr. Joubert het haar uitgevra oor die miergif wat mnr. Ciciliato deur middel van ‘n vriend in eMalahleni bekom het.
“Hy het gedreig dat hy my gaan vergiftig.”
Regter Louw het aan mev. Botma gestel dat daar sekerlik baie vrouens in haar posisie is wat nie hul mans vermoor nie. Hy wou weet hoekom sy gekies het om dit te doen.
“Daar was vir my geen ander uitweg nie. Ek het nie meer omgegee wat van my word nie. Ek was bang vir my lewe. Hy het baie gedreig dat hy my of die kinders sal skade aandoen.”
Sy het getuig dat mnr. Ciciliato gedreig het om swartmambagif onder haar naels in te spuit sodat niemand sal weet waaraan sy dood is nie. Sy het ook vertel dat mnr. Ciciliato haar met miergif gedreig het, wapens op haar gerig het en haar verskeie kere gewurg het.
“As ek by die werk op die vloer geloop het, het hy vinnig met ‘n voertuig op my afgejaag om my te laat skrik. Hy sou my sommer met ‘n kar omry.”
Regter Louw wou ook weet hoe mnr. Ciciliato daarin geslaag het om haar hande vas te bind en haar met ‘n motorhyser in die lig op te hys.
Mev. Botma het verduidelik dat sy aan sy versoek gehoor gegee het en haar polse vrywillig uitgehou het, sodat hy dit kon vasbind.
“As ek weerstand bied, sou hy my nog seerder gemaak het. Ek het maar gedoen wat hy sê.”
• Die eerste staat getuies is Donderdagoggend geroep. Daar sal in volgende week se uitgawe daaroor berig word.
