Kompetisie: Kom spaar water!
Vir diegene wat glo dat kinders maar met die water mag mors, want geen mens wil dit drink nie, net ’n herinnering dat daar wel steeds ’n droogte in Suid-Afrika is en Middelburgers is nié verhewe bo die res wanneer dit by waterbesparing kom nie.
Om jou tuin nat te maak terwyl die termometer 30°C+ lees, is – om ’n diplomatiese eufemisme te gebruik – uiters onkundig.
Waterbeperkings is wél steeds geldig van 09:00–17:00 en die publiek word ernstig versoek om by hierdie beperkings te hou.
Maak dus jou tuin nat tussen 18:00 en 06:00 wanneer die kondensasie nie so hoog is nie of wees bereid om ’n boete van R 1 500 of meer te betaal.
Oortreders sal onder andere beboet word vir die natmaak van tuine en grasperke buite die gegewe tye asook die was van plaveisels en voertuie met ’n tuinslang en nie ’n emmer nie.
“Die munisipaliteit het aansoek gedoen by die hof om oortreders te beboet en ons wag tans vir goedkeuring,” sê me. Prudence Magutle, woordvoerder van die Steve Tshwete Munisipaliteit.
Die land se droogte is as gevolg van die El Niño-weerverskynsel (die ergste een in 50 jaar) wat plaasvind weens temperature wat warmer as gewoonlik by oseaanoppervlaktes in die ooste van die Stille Oseaan is.
Dit veroorsaak warmer en droër toestande in gebiede soos Suid-Afrika, wat grootliks staatmaak op somerreënval vir watervoorsiening.
Volgens ’n verslag van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, is die reënval gedurende Januarie 2016 subnormaal en is daar vanaf November 2015 tot Januarie 2016 matige tot uiterste droë toestande ervaar, in veral die Vrystaat en Noordwes, wat tans uitbrei na Mpumalanga.
Mpumalanga is ook een van die vyf provinsies wat tot ’n rampgebied verklaar is as gevolg van die droogte.
Bring dus jou kant en hou op om alles te bewater en bewaar eerder.
Plaas jou water besparing storie in die ‘Comment box’ hier onder, en staan ‘n kans om R100 te wen!
