Goue kar kom haal seun
Die jong seun wat daagliks staan en bedel by die verkeerslig naby die Middelburg Mall, word in die aande deur mans in 'n goudkleurige Toyota Corolla opgelaai.
Só sê ‘n besigheidseienaar (wat anoniem wil bly om sy besigheid te beskerm) van een van die winkels by die Middelburg Mall.
Twee weke gelede, een middag omstreeks 17:15, het hy afgery in Sondagsrivierstraat oppad huistoe.
Hy is al gewoond aan die jong bedelaartjie by die verkeerslig en het nie veel notisie van hom geneem nie.
Die man het egter dadelik regop gesit toe hy die verandering in die houding van die seun sien.
“Hy staan altyd met sy bejammerenswaardige gesiggie, kop onderstebo en bedel. Die oomblik toe die goudkleurige Toyota Corolla egter by hom stop, het sy hele houding verander en het sy gesiggie opgehelder.”
Die knapie het die geld wat hy die dag gebedel het in sy broeksakke geprop, die glasie eenkant toe gegooi waarin die geld gehou word, opgewonde na die voertuig gehardloop en ingespring.
In die voertuig het twee goedgeklede, volwasse mans gesit en op die agterste sitplek was twee seuns jonger as die bedelaar. Aan die gebare van hul hande en die gesprek wat hulle gevoer het, kon hy agterkom dat hulle gelukkig is oor die hoeveelheid geld wat die seun vir hulle gegee het. Die geld is ook daar en dan getel.
Die sakeman sê die situasie is vir hom kommerwekkend. Dit is vir hom duidelik dat volwassenes die seun, en moontlik die twee ander minderjarige seuns ook, gebruik om vir hulle te bedel.
• Beide die CMR en die SAVF Maatskaplike Dienste het dit duidelik gestel dat volwassenes nie kinders mag dwing om vir hulle geld te bedel nie.
