Anna Rudolph se nalatenskap leef voort
Anna Rudolph se nalatenskap leef voort in geliefde kinderliedjies én die trotse skoollied van Hoërskool Ben Viljoen.
Die bekende skoollied van Hoërskool Ben Viljoen weerklink al dekades lank tydens byeenkomste, saalperiodes en sportgeleenthede – ’n melodie wat vir baie leerders en oud-leerders diep emosionele waarde dra.
Tog is die verhaal agter die toonsetting daarvan vir baie onbekend. Die naam wat hier uitgelig word, is dié van me. Anna Rudolph, ’n vrou wie se bydrae tot Afrikaanse musiek en kultuur veel verder strek as net een skoollied.
Die toonsetting van die skoollied, soos dit vandag gesing word, is reeds op 8 Augustus 1960 vir goedkeuring voorgelê. Die lirieke is geskryf deur haar man, mnr. C.F. (Coenie) Rudolph, ’n oud-onderwyser aan die skool tussen 1947 en 1952 en ook ’n bekende digter en skrywer. Hierdie kreatiewe samewerking tussen man en vrou het ’n tydlose lied opgelewer wat vandag steeds met trots gesing word.

Op 9 April vanjaar, die dag waarop me. Rudolph haar 102de verjaarsdag sou vier, het die Vriende van die NALN-Facebookblad weer die kollig op haar merkwaardige lewe geplaas. Dit dien as herinnering aan die diep spore wat sy in die Afrikaanse kultuurlandskap getrap het.
Baie Suid-Afrikaners sal bekend wees met kinderklassieke soos ‘Oom Jan sny koring op die land’ en ‘Môre juffrou, môre klas’, liedjies wat oor jare heen in klaskamers en skoolsale weerklink het.
Min besef egter dat dit juis me. Rudolph was wat hierdie geliefde liedjies getoonset het. Haar werk het generasies kinders vermaak en gevorm, en haar invloed strek wyd oor die land.
• Anna Lemmer Badenhorst Rudolph is op 9 April 1924 in Potchefstroom gebore uit ’n huisgesin waar liefde vir onderwys, drama en musiek diep gewortel was. Haar ouers, self onderwysers, het haar belangstelling en talent van kleins af aangemoedig. Ná haar kwalifikasie as onderwyseres het sy haar kreatiewe vermoëns verder ontwikkel en haarself gevestig as komponis, skrywer en storieverteller.
Haar nalatenskap is indrukwekkend. Sy het sangbundels, eenbedrywe, libretto’s, plate, kinderverhale en selfs ’n ligte roman geskep. Een van haar bekendste werke, die bekroonde klug “Bye om ’n Aster” (1967), getuig van haar veelsydigheid as kunstenaar.
Vanaf 1960 het haar kreatiewe produksie merkbaar toegeneem. Vir me. Rudolph was skep nie net ’n beroep nie, maar ’n roeping. Sy het self gesê: “Ek sal, DV, nooit ophou nie. Dis my groot liefde. En wat jy met liefde in die hart van ’n kind plant, hou nooit op groei nie.” Hierdie woorde spreek boekdele oor haar passie vir kinders en haar geloof in die krag van musiek en stories.
Sy het ook erkenning gegee aan die invloed van mnr. Hendrik Kruger, ’n klavierstemmer wat haar gehelp het om haar musikale idees te verfyn. Met sy ondersteuning kon sy meer struktuur en vorm aan haar komposisies gee, al was inspirasie vir haar nooit skaars nie.
Benewens haar eie werk, het sy ook saam met haar seun, Kobus Rudolph, opgetree op sy radiostasie, Radio Rippel (90.05 FM) in Pretoria en Verwoerdburg (nou Centurion).
Me. Rudolph se nalatenskap leef vandag voort – nie net in die liedjies wat kinders steeds sing nie, maar ook in elke noot van Hoërskool Ben Viljoen se skoollied. Haar werk is ’n bewys dat dit wat met liefde geskep word, generasies lank kan voortleef.
•Die Engelse gedeelte van die skoollied is in 2002 bygevoeg.
