News

Flopsport: Tobie van den Bergh

•Was toe nie rof en onbeskof op Loftus nie, maar stil en stemmig. Miskien was dit uit respekte, want wat doen jy in 'n losie waar 'n ou met Leeu trui, een met Blou Bul trui en Wiepie trui, saamgekoek is? (Die ou met sy rooi Leeu trui het natuurlik totaal verlore gelyk tussen 'n see van blou).

•Tydens ‘n fotosessie spot iemand dat die man met WP trui in ‘n pienk Bulls trui gephotoshop gaan word. Haak iemand uit die hoek af: “Dan stel ons hom voor as een van die NG Kerk se nuwe lidmate”. Eina!

•Chuck Nollis is toe ook maar net mens. In die Vodacombeker halfeindstryd vanjaar stuur hy ‘n haker op wat aanhou skeef ingooi en die Bulle verloor. Vrydagaand gebeur dieselfde.

•Pret om op Loftus te gaan rugby kyk. Die groot stoeigeveg vir parkering is egter nie pret nie. Honderde karwagte wag jou in. Elkeen beduie sypaadjie toe. Jy kry skoon engtevrees en vir ‘n sypaadjie parkering moet jy R50 opdok en hoop jou kar is nog daar wanneer jy terugkom. Oppad na die veld loop jy jou vas in ‘n stegie waar die urinestank van ver af aangesweef kom. En wanneer die Bulle ook die aand gepoef het en dit nog teen sy ou aartsvyand…!

•Terwyl ons nou op die onderwerp is, daar word gesê Craig Joubert het dalk toilet toe gehardloop, daarom is hy skielik van die veld af. Dink ook hy het toilet toe gehardloop, van benoutgeit.

•Ja, jy kan hier op Loftus die Bulle boor en daarmee wegkom, maar met die Ingelse pers is dit nie so maklik nie. Wyle Gert Grobler moes dit destyds ontgeld toe Marius Bosman Dodie Weir se knie afgeskop het. Groot Gert moes by die perskonferensie bontstaan onder die Ingelse media se skerp vrae.

•Schalk Burger kort net Naas se tanne, dan kan hy deurgaan as die Bokke se blonde, skoppende losskakel.

•Miskien het Joubert soos ‘n paar ander Suid-Afrikaanse skeidsregters te groot geraak vir hulle skoene en toe maak hy ‘n Skot van homself.

•Ai die tanne van die tyd. Oor Dries Breytenbach berig toe hy so skraal skeidsregtertjie was. Kyk Dinsdagoggend hoe draf hy en sy trop honne, maar hulle draf almal so vinnig, dit lyk of hulle loop.

•Ouderdom sê hulle is in die kop. Nou die anderdag die mooi storie gelees van die bejaarde wat op 100 nog Pretoria toe ry vir sake en sy bestuursliksensie is geldig tot 103 jaar.

Dinsdag het NG Kanonkop se kenmekaar groep hulle afsluiting gehou en Koos Prinsloo het op byna tagtig sommer net daar opstote gedoen om aangewys te word as Meneer Kenmekaar. Weet darem nie so mooi van die storie dat hy op 100 opstote onder luide aanmoediging aangegaan het na 101, 102, 103…toe nie.

•Was nie lekker om Henning Gericke uitgedos in sy WP baadjie en das langs die veld te sien paradeer Vrydagaand nie. Dit van ‘n man wat nader as die Hotel 224 van Loftus af bly en vir Noord-Transvaal op flank uitgedraf het.

•Wanneer jy jou as Blou Bul toffie wil uitleen, moet jy seker bereid wees om herkou te word. Die wedstryd is skaars verby en Hermie Crous laat weet: “Bye bye Bulle”. Pine Pienaar kry jou in die Mol en lag net met daai lag.

•Net toe die Leeus stert in die lug dink hulle wen die Curriebeker op ‘n skinkbord, speel ‘n klomp Varsitybeker spelers, vermom as Tjietas, hulle dat jy net vel en hare sien trek.

•Hoe is dit asof die All Blacks die jaar groter, sterker en vinniger is én langer tonge het? En hulle truie is meer swart, pikswart.

•Sou darem ‘n yslike rassekwessie gewees het as ‘n Springbok die naam gegee is wat Julian Savia by sy spanmaats gekry het: “The big black bus”.

•Nadat Trevor Nyakane so opslae maak met sy Dan Biggard dans, kan hy bekend staan as die: The Big b… Biggarena Man.

•Mooi die tweet oor Brian Habana: “No woman, no cry. No charcoal, no braai. No Habana, no try”.

•Daar was Gerhard Viviers en nou is daar Tokka en Kobus. Hulle kommentaar Saterdag tydens die Wallis en Bokke wedstryd: “Ek kry warm my ou maat, die army jas maak my warm, van die begin af het ons gesê dit gaan ‘n harde wedstryd wees. Gatland sê niks, maar sy emosie wys alles.

As ons so voel, hoe moet die mense by die huis voel? Uh, Biggard moet gaan vir die ding-dong-toets, Dan Biggard. Nouja Meneer Wiese, hier gaan ons: Fourie wag om bal in te sit, dit is oorverdowend. Jannie du Plessis, jy moet staan my ou maat, jy moet staan.

Kom Suid-Afrika, asseblief manne, asseblief manne, konsentreer, kry ‘n goeie skrum. Du Preez wat die skrum voer, Fourie, Du Preez, Fourie du Preez wháááá… briljante spel, Twickenham ontplof, absoluut briljant, skitterende skrum, whááá, Fourie du Preez absoluut, oh ho ho hoe hoe, ek kan dit nie meer hou nie…ons kan mekaar vashou…”. (Weet nie of hulle toe saam met Craig Joubert gehardloop het…of in mekaar se arms was nie…).

•As hulle so teen Wallis gehááá en hoééié het, wat gaan hulle teen die All Blacks doen?

Tobie van den Berg

Editor at Middelburg Observer
 
Back to top button