Nuusflits: Leeu ontsnap uit kamp by Mbidi
Pandemonium het Vrydag by Mbidi Lodge uitgebreek toe Dondor, ’n mannetjies leeu, uit sy kamp ontsnap het.
Die hulp van ’n veearts is dadelik ingeroep om die dier te pyl, waarna hy terug geplaas is in sy hok.
Lodge bestuur het dadelik ondersoek ingestel na hoe die leeu uit die kamp ontsnap het.
Nuus het vinnig versprei dat die leeu iemand by die lodge aangeval het, maar die lodge bestuur het dit ontken.
Mbidi is ’n gewilde bestemming vir toeriste wat daarheen stroom om die leeus te sien.
Volgens die algemene bestuurder, mnr. Regardt Schafer, het die leeu teen die hek van sy hok opgespring, en met die impak die haak van die slot gebuig, en so ontsnap.
Die slot is egter dadelik herstel en versterk.
Mnr. Schafer sê Dondor is een van hulle mak leeus, en sal nie sommer aanval nie.
