News

My Beurt: Tobie van den Bergh

Dit is 'n gestamp en stoot om by die Sasani ateljees in te kom.

Dit is vier uur in die middag in Randburg

Die atmosfeer is elektries, die afwagting hang in die lug.

Binne wys die reuse hand met mikrofoon jy is nou by The Voice.

Jy is verstom oor al die ligte en mense wat heen en weer draf.

Ons word gevra om hande te klap. Ons klap. Ons moet lag en ons lag.

Die applous is nie goed genoeg nie. Ons klap weer. (Gelukkig was die lag op standaard).

Die toeskouer wat die beste applous gee, kry ‘n geskenk.

Khan Morbee kom eerste ingestap. Stil stemmig gaan sit hy.

Lira lyk soos ‘n Griekse godin.

Bobby kom met ‘n blikkie Coke in en van oral word daar geskreeu: “Bobby!”

Karin Zoid stap stadig en lyk asof sy in pyn is.

“Wys vir hulle jou boud,” vra Bobby met ‘n seunsgesig wat die land liefhet.

Karin kyk hom half verontwaardig aan.

“Hierdie girl is in pyn, sy het van die trappe afgeval,” lap Bobby haar dilemma uit.

Lira wys met haar vingers hoe lyk Karin se besering.

Aanbieder Lungile Radu oefen sy openingswoorde op ‘n skermpie wat voor hom op ‘n monitor rol.

‘n Man met besem vee die verhoog skoon.

Daar is advertensies en die Voice se temamusiek.

Dit is aksie.

Die show het begin.

Matthew Mole sing jou tot hoendervleis.

Met elke breek moet die man met besem inspring, hy vee en vee, die hele aand deur.

Jy wonder hoe kry Lungile dit reg om so vinnig te lees.

“Klavier!” roep die regisseur uit.

Talle hande gryp ‘n yslike klavier en tel hom op die verhoog.

By ‘n pyp blaas rook soos ‘n stoomtrein uit.

Clemour sing.

Francois Bouwers sing.

Thembeka sing.

Haar familie dans en klap én bars na die tyd in trane uit.

Almur Marais, alias Stilfontein, word goed deur sy afrigter, Karin, geroskam omdat hy sy woorde vergeet het.

“Wil jy ‘n fitter en turner bly?” vra sy.

Vroutjie fluister: “Hoe moet die fitter en turners nou voel?”.

“Dromme!” word daar beveel.

Yslike dromme word aangedra.

Daar word water op gegooi.

Wanneer die stokke die drom tref sien jy net water spat: Wow!

Dit is weer advertensies. Bobby is dors, hy soek water.

“Thirty seconds to go”.

Maar Bobby is nog nie op sy sitplek nie.

“Twenty seconds”.

“Bobby jy werk op my senuwees”.

Ons is daar vir Team Bobby, vir ons eie Vernon Barnard.

Vernon tik-tik op sy mikrofoon.

Jy besef die blinde sanger maak seker die afstand tussen sy mond en die mikrofoon is reg.

Hy stel nie teleur nie.

Richard Stirton eindig met Sound of Silence.

Sound of Silence?

Nee, dit is The Voice!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button