Middies inligtingsessie oor sosiale media regte en aanspreeklikheid ’n moet vir alle ouers
Alle tieners is potensiële slagoffers van sosiale media uitbuiting.
Die gevare van die gebruik van sosiale media, en tieners se aanspreeklikheid met die deel van eksplisiete videos en foto’s, sal om 18:00 in Hoërskool Middelburg se skoolsaal, onder die loep kom.
Die inligtingsessie wat aangebied word deur dr. Lizzie Harrison, kollega van die befaamde mediareg spesialis Emma Sadleir, sal onder meer fokus op die sosiale media landskap van Suid-Afrika, die regsaspekte rondom laster wetgewing, privaatheid op die internet, haatspraak en kopiereg.
Kuberboelies en teistering op sosiale media sal ook bespreek word saam met sogenaamde “sexting” en pornografiese misdrywe.
Daar sal ook gekyk word na interessante wendings wat onverantwoordelike gebruik van sosiale mediaplatforms kan hê, soos of ’n leerling geskors kan word uit ’n skool vir wangebruik van die platforms.
Dr. Harrison sal ook die latere gevolge van sosiale media misbruik bespreek, onder andere of sosiale media plasings daartoe kan bydra dat die betrokke gebruiker universiteitstoelating geweier kan word, beurse daardeur kan verloor, en selfs of toekomstige werkgewers applikante kan weier op grond van hul sosiale media status.
Die bespreking sal ongeveer ’n uur duur, waarna tyd gegun sal word vir vrae en antwoorde.
Toegang tot die sessie is gratis.
Ouers sal ook leiding gegee word oor hoe om hul kinders se toegang tot die internet en sosiale mediaplatforms te beheer.
Emma Sadleir is die outeur van die opspraakwekkende boek “Don’t Film Yourself Having Sex… And Other Legal Advice For The Age of Social Media”.
Dr. Harrison is ’n mediese spesialis in die gebied van pediatrie en pediatriese sielkunde.
