News

Brief maak opslae

’n Brief wat op www.mobserver.co.za en gedeeltelik in die Middelburg Observer gepubliseer is, is besig om opslae op die dorp te maak.Meer as 14 000 mens het die brief al gelees.

’n Inwoner wat hom “Boodskapper van God” noem, het die brief geskryf, nadat hy ’n visioen gehad het oor die sedelike verval op Middelburg wat geteister word deur dwelms, ontrouheid in huwelike, misdaad en pornografie.

Die vraag op almal se lippe is: Wie is dié man.

Hy het by navraag egter gesê dat God aan hom openbaar het om nie sy naam aan die brief te koppel of erkenning daarvoor te soek nie.

Hy sê dat God op 1 Februarie 2017, vir hom gesê het Hy is keelvol en woedend oor dit wat in Middelburg plaasvind en dat Hy Sy toorn oor die mense gaan gebied en dat hy hulle moet waarsku!

Hy gee dan ’n lang lys van waarskuwings wat by kerke begin: “My toorn en My oordele gaan nou by die kerke begin (1 Petr. 4:17) omdat My boodskappers net louer en louer word (Openb. 3:7-17) en omdat menig nie meer die waarheid preek nie (1 Petr. 2:1-3).”

Tweede op die lys is die “lou christenmans van Middelburg”.“Massas aanbid naweek vir naweek die sportgod, verorber liters en liters drank, vloek, hoereer, kyk pornografie, pleeg owerspel, bid nie meer nie, lees nie Bybel nie, weier om priesters van hulle huise te wees (Hosea 4:6). Hulle bly saam in hoerery, spot oor die wederkoms (2 Petr. 3:3-4).”

Oor vroue op die dorp sê hy: “Julle het julle huise verlaat, julle kinders het geen toesig. Hulle hoereer na skool en vakansies sonder ophou in jul huise. Hulle kyk pornografie, raak verslaaf aan dwelms”.

Oor die rykes op die dorp sê goddelike boodskapper: “Jy het vanweë die ‘swartgoud’ rondom Middelburg vir jou menig skatte vergader. Jy het die loon van jou arbeiders terug gehou (Jak. 5:1-6).

Julle leef weeldering in groot huise, ry duurste karre, vergryp julle aan swelgerye, terwyl menig van my kinders by verkeersligte en elders krepeer van hongersnood.

Kyk, Ek gaan julle stroop van alles! Julle huise, die grotes en die mooies, gaan Ek toesluit sodat jy daar nie kan ingaan nie (Jes. 5:9, Jes. 24:10).”

Selfs die skole word gewaarsku: “Julle het die skole verander in pornografiese instellings en plekke van plesier. Pornografiese onreinheid en vierletter skaamdeelwoorde is aan die orde van die dag.

Kinders word van kleins af verslaaf aan tegnologie en om die sportgod te aanbid, en word in detail geleer hoe om veilige seks voor die huwelik te beoefen.

Kyk, Ek gaan hulle bloed van julle hande eis, daarom gaan Ek die kinders teen julle oprig en skole onregeerbaar maak, soos reeds in ander lande gebeur.”

Terwyl prostitute oopbeen op sypaadjies sit om kliënte te lok sê die boodskapper: “Ek laat julle toe om te floreer (Spr. 16:4) sodat die mans van Middelburg wat van My af weggehoereer het, deur julle besoedel kan word, en my volle oordeel oor julle en hulle kan kom (Openb. 22:11).”

•Saterdag is ’n geestelike herlewingsaand in die banketsaal op die dorp gehou met die tema “Step into Faith”, asook ’n reuse partytjie. Daar was meer mense by die partytjie. Die organiseerder van Step Into Faith, Barries Barnard, het gesê dat hy ook Sondagaand ’n visioen gehad het.

‘n Goddelike waarskuwing

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button