Leeus weer afgemaai
'n Leeumannetjie en -wyfie van Bushfellows Game Lodge, buite Marble Hall, is Vrydag in die vroeë oggendure doodgemaak en die karkasse se koppe en pote is afgekap en gesteel.

Kaptein Hennie Engelbrecht, van die veediefstaleenheid in Marble Hall, sê dat een van die werkers by Bushfellows Game Lodge dié oggend verby die hok gestap en die dooie leeus opgemerk het.
Me. Mandy van den Berg, eienaar van Bushfellows Game Lodge, sê die karkasse is omstreeks 09:00 gevind. Hulle het dadelik die polisie gebel.
Kaptein Engelbrecht sê hul vermoed dat die verdagtes vanaf die kanaal, wat by die lodge verby loop, ingekom het.
“Die drade naby die kanaal is geknip en hulle het hul pad gevind na die leeukamp waar hul weer die drade van die kamp geknip het om toegang te verkry. Ons vermoed dieselfde modus operandi is gebruik as die vorige keer wat die lodge geteiken is,” sê Kaptein Engelbrecht.

Titan en Sahara, wat nou sewe jaar oud was, het ‘n vorige aanslag oorleef. Hulle het 9 Oktober 2016 gif ingekry maar kon deur veeartse deurgetrek word. Polisie het destyds kop gekrap oor hoekom die stropers van die toneel gevlug het, sonder om die leeus op te kap.
Dié twee leeus was egter dié keer nie so gelukkig om die voorval te oorleef nie.
Kaptein Engelbrecht sê dat hul vermoed dat die leeus eers weer vergiftig is, voor die verdagtes hul koppe en pote afgekap het. Die leeumannetjie se bors was ook oopgesny.
“DNS-toetse word gedoen om vas te stel watter gif gebruik is, maar ons vermoed dat dit Temik kan wees. Gerugte dat die leeus geskiet is, is onwaar,” sê Kaptein Engelbrecht.

Me. Van den Berg sê dat hulle ‘n paar dae voor Titan en Sahara doodgemaak is, aangenaam verras was toe hulle ‘n welpie by die teelpaar opmerk.
“Die welpie is ongeveer drie maande oud. Ons het nie geweet dat hul ‘n welpie gehad het nie. Dit was vir ons ‘n groot verrassing gewees,” sê me. Van den Berg.
Lees ook: Nog leeus afgemaai
Liggaamsdele dalk vir moetie gebruik
Werkers van Bushfellows Game Lodge het ‘n geruime tyd na die welpie gesoek na sy ouers doodgemaak is. Hy is gevind waar hy weggekruip het tussen bosse in die leeukamp.
“Die welpie was baie aggressief en emosioneel. Hy is nou by ons huis, waar ons hom veilig hou. Dit gaan elke dag beter met hom,” sê me. Van den Berg.
Sy vertel dat hul nog getraumatiseerd is na die gebeure.
“Dit is oorweldigend, hoe almal belangstel en omgee. veral nou in die rouproses,” sê me. Van den Berg.
Bushfellows Game Lodge bedank almal wat betrokke was na die voorval, asook elke persoon wat vir hul boodskappe en oproepe gestuur het om hul meegevoel te deel.
• Skaars ‘n dag voordat dié twee leeus by Bushfellows Game Lodge afgemaai is, was twee leeus by Kwaagadans in die Vaalwater-omgewing van hul liggaamsdele gestroop.
Volgens lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het ‘n onbekende aantal verdagtes Donderdagaand, 10 Augustus, die heining van ‘n leeukamp in die omgewing stukkend gesny om toegang te verkry. Hulle het twee leeus doodgemaak en daarna die karkasse se bekke en pote gestroop. Een leeu se maag was ook oopgesny. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

• Die polisie waarsku leeuboere dat hierdie voorvalle die werk van ‘n sindikaat is. Daar is reeds talle voorvalle aangemel, wat so ver terugstrek as Desember 2015. Die eerste voorval waar leeus vergiftig is, het in Limpopo plaasgevind. Leeus se koppe en pote word in meeste van die voorvalle geroof.
Dié voorvalle het in Mei 2016 skerp toegeneem, waarna dit weer rustiger geword het.
In September 2016 was daar weer ‘n toename in die tipe voorvalle met 13 leeus wat vergiftig is in Limpopo in die maand.
Daar is reeds agt voorvalle in die Vallei omgewing waar leeus vergiftig is, twee daarvan by Bushfellows Game Lodge. Voor die mees onlangste voorval Vrydag, was die laaste voorval op 18 November 2016 by ‘n plaas net buite Groblersdal, waar drie leeumannetjies en twee leeuwyfies vergiftig is.

• Kaptein Engelbrecht vra alle leeuboere om bedagsaam te wees en die nodige voorsorgmaatreëls te tref. Persone met inligting kan die veediefstaleenheid kontak by 071 672 8589 of 079 875 8048.
