Johan, die sagte een. Wat haar kon wegvoer na ’n wêreld van stories, gedigte, wat kon verdwaal in haar blou oë, wat sy konsertina kon laat huil en kerm.
Wat in haar ’n hartseer -deernis vir die mooi, destyds net na ’n verskroeide aarde oorlog, kon wakker maak.
Haar tye saam met hom ’n droomwêreld.
En dan Paul. Hy galop haar werf op sy swart hings binne. Jaag die veld in met haar agterop, haar arms om sy lyf geklem. Soen haar asem weg tussen groen gras en blou lug.
Paul wat ’n blesbok op 200 treë ’n nekskoot kan gee. Sy keel afsny. Hom op sy skouers huistoe dra. Man, bloed, aarde, bok.
Tot die noodlot ingryp. Haar keuse wegvat.
My huis is in Markstraat. Regoor die mark van vanmelewe. Waar die landdrosgebou nou staan, is 100 jaar gelede oor die prys van pampoene en osse geredekawel.
My tuinman spit ’n skêr uit. ’n Halwe een. Dit sit my aan die dink, en soek na die storie agter die skêr. En ek kry hom.
Johan en Paul, op die markplein, albei ryk boere, kry stry oor die prys van ’n os. Maar eintlik gaan dit baie dieper, oor die beeldskone Isabella.
Woede, wellus, afguns, hebsug, vier van die sewe doodsondes laat Johan wasbleek sterwend. ’n Halwe skêr in sy hart. Daar waar hy Isabella gekoester het.
‘Paul besef dis vlug, of hang aan sy nek tot hy dood, dood, dood is. In sy vlug slinger hy die ander helfte van die skêr ’n erf in. Myne!
Hy spring op ’n trein. Land in Lorenco Marques. Laai skepe. Slaap by prostitute. Kruip weg agter die naam Paulo Scizero.
Tot hy, so sê hulle, soos alle oortreders terugkeer na die toneel van sy misdaad.
Dis ’n soel lente Sondag. Die reuk van nat aarde meng met die van bloeisels. Hang swaar oor Middelburg. Maak beloftes van ’n geil vrugbare somer.
Paulo waag hom die Witkerk in. Niemand gaan hom herken met sy woeste baard en hare nie.
Maar daardie Sondag is dit nie Paul en Isabella wat doop nie. Dis Jakobus en Isabella. In Isabella se oë ’n teerheid as sy na haar seuntjie kyk. Maar ook ’n diep misterieuse verlange na iets wat verby is. Wat hierdie dag so anders kon gemaak het.
Toe sy die paadjie terug verby Paul stap, is vir ’n vlietende oomblik die kerk en Jakobus, en die kind weg. Dis net die groen gras, die blou lug, die swart hings, Paul en sy. En ’n groot onuitgesproke verlange.
Buite in die son is sy terug in die werklikheid, by haar kind, en Jakobus haar man, vir wie sy lief is.
•Die verhaal is denkbeeldig, behalwe vir die skêr.
