Witkerk se 150 jaar in boek onthou
’n Dik koffietafelboek wat die geskiedenis van die Witkerk se 150 jaar saamvat op glanspapier is tans in druk.

Dr. Gerdrie van der Merwe (63), die skrywer van die boek sê “Goedheid en guns vir die Witkerk: Die verhaal van die NG Gemeente Middelburg 1867-2017”, is ’n dik, duursame kofftietafelboek met die beste glanspapier in kleur..

Die boek van 144 bladsye het honderde swart/wit foto’s met 51 bladsye wat vol kleurfoto’s in collage is.
Die hele geskiedenis van die streek en die gemeente word pakkend beskryf van 1867 tot 2017.
Die 150-jarige feesjaar van die NG Gemeente Middelburg word op Sondag, 12 November, afgesluit met ’n erediens in die Witkerk waar dr. Van der Merwe die prediker sal wees.

By hierdie geleentheid word die feesboek ook amptelik oorhandig.
Die boek sal daarna te koop wees by die kerkkantoor. Dr. Van der Merwe sê dit is ’n beperkte oplaag. “Maak seker jy kry ’n boek!”
Lees: Orrelmusiek om 150 jaar te vier
• Dr. Van der Merwe het enkele gedagtes uit sy voorwoord in die boek gedeel:
“Die verhaal van die Witkerk, ontbloot die hartklop van ’n besondere geloofs- en liefdesgemeenskap op Middelburg, kerkmense wat met inspanning, geloofsmoed en volharding ’n verskil gemaak het in die Here se Koninkryk.

“Dit is leesbaar in mensetaal, getuig van bloed en sweet tot vandag toe. Dit vertel die kerkstorie waaraan jou voorgeslag en jy help skryf het, ’n duur verhaal wat gekoop is met die bloed van Jesus Christus.
“Dit is die speelveld op Middelburg waar gelowiges tot vandag toe talente en gawes omskep in dade.
“Die Witkerk, wat sedert 1890 oor Middelburg waak en met sy kerktoring hemelwaarts wys, herinner bestuurders van duisende voertuie en vragmotors aan Jesus Christus die Goeie Herder wat besige mense wat om oorlewing veg, by groen weivelde en waters waar rus is, bring. (Psalm 23:1-6).

“Die rustige stilte en vrede wat die eerste bewoners van Middelburg in 1867 beleef het, is in 2017 op Middelburg vervang met die geraas van steenkoolmyne, kragstasies en nywerhede.
“Die NG Gemeente Middelburg met sy kerkgebou in die dorpskern, het die afgelope twee dekades daarin geslaag om ten spyte van groot demografiese veranderings op Middelburg, die goedheid en guns van die Here God aan mense te gee wat aangeraak word deur die Blye Evangelie.

“Plaas hierdie duursame hardeband gedenkboek oor die Witkerk op jou koffietafel, in jou voorportaal, op ’n spesiale plek in jou huis. Dit moet ’n ereplek kry in die boekrak van mense wie se pad met Middelburg gekruis het, in Suid-Afrika en oorsee.

“Mag elkeen wat die boek lees weer besef dat herinneringe is gestolde tyd. Net die tyd leer ons, niemand word wys gebore nie. Daarom het ons Psalm 23 se goedheid en guns in 2017 so broodnodig.”
• Dit is die 54 ste gemeentegeskiedenis boek wat dr. Van der Merwe skryf. Volgende jaar verskyn boeke oor die NG Gemeente Charl Cilliers en die NG Gemeente Zeerust uit sy pen.

In ’n artikel uit die Kerkbode word hy beskryf as ’n afgetrede predikant, kerk- en kultuurhistorikus, boekemens, antikwariese versamelaar, telefoongebedsman, uitgewer en boer. Hy het ’n plaas op Donkerpoort in die distrik Trompsburg, asook ’n seehuis by Reebok naby Mosselbaai.
Hy was predikant van die NG gemeentes Smithfield, Kuruman en Bethulie.

• Die foto vir die voorblad van die boek is geneem deur Barries Barnard. Hy het die fotografiekompetisie gewen wat die Witkerk in samewerking met www.mobserver.co.za aangebied het as deel van hul feesjaarvieringe.
