News

Stem in ons meningspeiling – ‘So maak jy kind vir galg groot!’

“Die Skrif is baie duidelik dat ’n kind getugtig moet word. Anders maak jy hom vir die galg groot.”

So meen ’n advokaat en pastoor Maandag na die Suid Gautengse Hooggeregshof in Johanneburg Donderdag beslis het dat ouers nie lyfstraf kan toepas nie.

’n Moslempa het sy 13-jarige seun geskop en geslaan nadat hy die knaap betrap het dat hy pornografie op die internet kyk. Daar is beslis hy kan nie die verweer van ‘ouerlike plig’ in die hof aanvoer nie.

Die seun het na die voorval kriminele klagtes teen sy pa, wie ook sy vrou in dieselfde voorval aangerand het, gelê.

Regter Reileen Keightley het bevind dat ouers nie aan die nakoming van landswette kwytgeskeld kan word nie, selfs al is dit hul godsdienstige oortuiging dat hulle hul kinders moet tugtig.

“Ouers wat aan lyfstraf glo kan nie hul godsdienstige oortuigings bo die belang van hul kinders stel nie,” het sy gesê.

“Ouers wat hul kinders pak gee moenie lukraak vervolg en gestraf word nie.

“Waar moontlik moet ander ingrypings eers gebruik word.”

Lyfstraf in skole is reeds sedert 1997 ingevolge die Skolewet onwettig maar tot nou kon ouers nog ingevolge gemenereg nog matige of redelike lyfstraf toepas.

Skole het sedertdien juis op ouers staat gemaak om dissipline toe te pas.

Voorvalle van lyfstraf in die ouerhuis gaan nou soos gewone aanranding vervolg word, maar strawwe vir ouers sal wissel.

Howe sal waarskynlik bemiddeling voorskryf, eerder as direkte straf soos boete of tronkstraf.

Doktor Thinus van der Merwe, pastoor van die AGS Lighuis Gemeente in Aerorand, het Maandagoggend in ’n gesprek met www.mobserver.co.za gesê dat hy deeglik bewus is van die saak en uitspraak wat sedert Donderdag landwyd opslae gemaak het in die gedrukte en radio media.

Hy het gesê dat daar ‘n duidelike verskil is tussen tugtiging en aanranding.

“Die Skrif is baie duidelik dat ’n kind getugtig moet word. Anders maak jy hom vir die galg groot.”

“Die (AGS) kerk is teen alle vorme van geweld en aanranding – hetsy teenoor ’n man, vrou of kind, maar ondersteun die Bybelse beginsel van tugtiging.”

Doktor Van der Merwe is ook ’n praktiserende advokaat en dien op die AGS Suid-Afrika se Regsraad.

Soos vele ander voel hy dat tugtiging ’n laaste uitweg moet wees.

Ouers moet hul kinders eerder dissiplineer deur hul van hul voorregte soos sakgeld te ontneem en hul te hok (ground).

In Skotland is die toediening van enige vorm van lyfstraf ook die afgelope week verbied.

Ander nuus:

Huis van gruwels – Ouers wat eet terwyl kinders honger moet toekyk, bly in aanhouding

Eskom power cuts the whole town

Weather for the week

Want breaking news on the go?

Add us on WhatsApp. Save the number 072 248 3855 on your phone and send a WhatsApp message with the words “Add me” to receive news broadcasts.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button