Oorlamse fietsdief nie bang vir kwaai honde
Twee kwaai pit bulterriërhonde het vanoggend stertswaaiend toegelaat dat ’n booswig by ’n erf in Samora Machelstraat inspring en ’n veertienjarige seun se splinternuwe bergfiets steel.
Me. Maria van der Westhuizen is dronkgeslaan oor haar honde wat selfs opgespring het teen die fietsdief toe hy in die erf rondgesluip het.
“Hulle wil almal byt wat naby die hek kom en blaf as mense selfs aan die oorkant van die pad loop. Ek weet nie hoe het dit gebeur nie. Dit is asof hulle hom geken het!”
Haar dogter is siek en haar man het laat weet dat hy haar gaan kom haal om dokter toe te neem.
Sy was omstreeks 09:30 by haar dogter in die kamer om haar te help klaarmaak, toe sy die beweging deur die venster opmerk.
Me. Van der Westhuizen het dadelik die venster oopgepluk en vir die boef “hey!” geskree.
Hy het egter ongestoord verby die voordeur en huis gestap tot bo by die motorhuis waar hy die fiets gevat en teruggestap het hek toe.
Haar seun, Ruan (14) het gehoor sy ma skree hulle is besig om sy fiets te steel en het gou die deure oopgesluit om die dief te probeer inhardloop.
In hierdie tyd het die fietsdief nog rustig gestap en eers die hek oopgepluk toe hy Ruan opmerk.
Nadat hy nog ’n paar treë met die fiets langs hom gestap het, het hy die twee sakke wat hy in sy hand gehad het, neergesmyt en op die fiets gespring.
Me. Van der Westhuizen sê hulle moes magteloos toekyk hoe hy met haar seun se fiets tussen die verkeer deur vleg en opry in Samora Machelstraat in die rigting van die brug.
Die dief het ’n blou oorpak gedra met ’n swart mus.
“Ons het lank gespaar om dié fiets vir Ruan te kon koop vir Kersfees!” het me. Van der Westhuizen moedeloos gesê.
Hulle het R2 700 betaal vir die swart en groen Totem bergfiets, waarmee Ruan altyd Hoërskool Middelburg (waar hy ’n leerling is) en dorp toe gery het.
Sy vra dat indien enigiemand die verdagte of fiets moontlik opmerk, om haar te bel by 060 712 6381.
Lees ook:
Trokdrywer ernstig beseer nadat hy in ander trok vasry
Twaalfjarige wat in ongeluk gesterf het, op familieplaas begrawe
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za