News

Kroeë uit vir Jock van die Hoëveld

’n Nakomingsbevel sal die week aan mnr. Quintin Bernardio uitgereik word omdat hy sy hond Jock, in sy bakkie gelos het, voor ’n kuiersessie waarvan hy die volgende dag niks kon onthou nie.

Mnr. Bernardio vermoed dat sy drank gedokter is en daartoe bygedra het dat hy nie kon onthou waar hy sy bakkie, met Jock binne in, gelos het voor die aandjie uit op 6 Augustus nie.

Die DBV het verskeie oproepe van ontstoke diereliefhebbers gekry wat aandring dat mnr. Bernardio vervolg word vir dieremishandeling.

Plaaslike DBV verteenwoordiger, mnr. Bernard van der Berg, sê dat hy oproepe van so ver as Klerksdorp gehad het van diereliefhebbers wat mnr. Bernardio se bloed soek.

Talle mense het egter op sosiale mediaplatforms vir mnr. Bernardio in die bresse getree en gesê dat hy nie soos ’n lafaard weggekruip het nie, maar dadelik vir hulp gevra het, en dit daarop dui dat hy baie bekommerd was oor hond en bakkie.

Lees ook: ‘Help’ pleit man na hy bakkie en hond mis drink

Een leser het self erken dat hyself al sy motorfiets mis gedrink het.

Die Klerksdorp klaer was so vererg dat hy al vloekende daarop aangedring het dat mnr. Bernardio vervolg word.
Hy het ook ’n Middelburg Observer joernalis geskel.

Jock is egter so gelukkig soos ’n kat in ’n melkkan, trommeldik met ’n blink pels en sprankelende oë.

Daarom sal die DBV net ’n nakomingsbevel uitreik en mnr. Bernardio waarsku om nie weer vir Jock saam te ry op sy uitstappies kroeg toe nie.
Mnr. Bernardio het op 7 Augustus paniekerig by die koerant opgedaag en gepleit vir hulp.

Hy het die aand tevore saam met vriende gaan kuier en kon nie onthou waar hy sy bakkie parkeer het nie.
Die koerant het dadelik sy versoek vir hulp op www.mobserver.co.za gepubliseer.

Lees ook: Man kry bakkie en hond voor polisiestasie

Intussen is hy polisiestasie toe om die bakkie en Jock as vermis te gaan aanmeld, waar hy beide die bakkie en vir Jock aangetref het.

Al sy bakkievensters was minstens 20cm oop en hy sê dat daar vir hom gesê is dat polisielede gereeld ’n draai by Jock gaan maak het.
Mnr. Van der Berg sê dat hy aan die klaers probeer verduidelik het dat die hond nie mishandel is nie en goed opgepas word.

Die swetsende Klerksdorp diereliefhebber het die Nasionale DBV geskakel, wat instruksies gegee het dat die nakomingsbevel uitgereik word.

•Jock het die nasionale media gehaal met ’n berig in die Sondagkoerant Rapport en vermelding op die Groot Ontbyt.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button