News

Leeuklip 70 jaar jonk

Leeuklip VLU het pas sy 70ste bestaansjaar by La Ferme gevier.

Die spoggeleentheid het saamgeval met die tak se jaarlikse prysuitdeling en afsluiting. Hoewel Leeuklip reeds in Maart hul 70ste verjaardag gevier het, kon die verjaardagvieringe weens die Covid-19 pandemie, eers nou gehou word. “Verjaardae gaan nie oor die uitblaas van kersies of die geskenke wat jy ontvang nie, dit gaan oor die teenwoordigheid van geliefdes,” het voorsitter, Zedbie van der Merwe, gesê. “Dit is juis dié vriendskapsbande en gemeensaamheid tussen die vroue wat lede bestempel as die rede vir Leeuklip se sukses. Dis ook die tak se vermoë om te vernuwe wat sy voortbestaan verseker,” het Magda Beneke, lid met die meeste diensjare, oor die mylpaal gesê. Volgens me. Beneke is dit die aansluit van nuwe, en dikwels ook jonger lede wat nuwe energie, skeppende idees en mededingende ywer bring, wat verhoed dat die lede stagneer wat idees en inisiatiewe betref.

Tydens Leeuklip se verjaarsdagvieringe het elke lid ‘n gelukkige trekking geskenkpakkie ontvang. Geskenkies is geborg deur verskeie besighede. Cecilia Huyser oorhandig ’n geskenkpakkkie aan ’n ingenome Hannie Anderson.

“Ons kan met reg sê: ‘Leeuklip is vanjaar 70 jaar jonk.’” Sy sê dat die tak, onder die bekwame leiding van die voorsitter, daarom nie net groei in getalle nie, maar ook in kennis en vaardigheid. Hoogtepunte in Leeuklip se geskiedenis • Leeuklip-tak is op 27 Maart 1950 by die huis van me. Taback gestig op die plaas Leeuklip. Vandaar waarskynlik die naam van die tak. Dertien vroue was teenwoordig en me. A.J. le Roux is tot eerste voorsitter verkies. • Kort na die stigting van die tak dra Leeuklip by tot die oprigting van die Bothasberg boeresaal. • In 1975 skop Leeuklip stof in die ander se oë deur sewe trofeë in te palm by die Middelburg Skou. • Onder die voorsitterskap van me. Chrisanette Erasmus is Leeuklip in die laat 1970’s die grootste tak in Middelburgstreek, met 40 lede.

Zedbie van der Merwe, Shan van Niekerk en Cila Hartman klink ’n glasie op 70 jaar.

• Leeuklip lewer twee streekvoorsitters op: Lettie Ligthelm in 1975 en Lecia Steele in 2017 • Die tak bied vier keer die jaarlikse konferensie aan, waarvan die laaste in 1995 was. Dit was ook die laaste keer dat die konferensie deur ’n tak aangebied is. Die tak nooi vroue om die derde Woensdagoggend van elke maand om 09:00, te kom saamkuier by die takvergaderings. Vir meer inligting oor hoe om deel te word van die Leeuklip-familie, bel Jana Uys by 083 752 8506.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button