Bekende dwelmslaaf toegesluit nadat hy agter verslaafde swanger meisie aan is
Een van Middelburg se bekende dwelmverslaafdes, Frankie Swart (34), is oor die naweek toegesluit vir dwelmbesit.
“Ek het vir drie dae na my kind gesoek. Ek het gedog hy is dood! Ek was so bly toe ek sy ‘Please Call Me’s’ kry!” het sy ma, Mariaan, vanoggend gesê.
Mariaan het oor die naweek ’n Facebookplasing gemaak, waarin sy die volgende vra: “Ek vra vir hulp. My seun, Frank Steven Swart is weg. Hy was laaste in Pretoria saam met sy swanger meisie en sy is nou by haar suster in Witbank. Ek weet nie wat van hom geword het nie. Asseblief as iemand weet waar hy hom bevind, kontak my.”
Lees ook: Frankie pes inwoners met sy gebedel
Sy sê haar kind is elke dag met haar in kontak, ongeag waar hy is.
“As hy nie ’n WhatsApp kan stuur nie, dan stuur hy ’n paar Please Call Me’s van enige nommer af en dan bel ek hom.”
Vrydag het sy bekommerd geraak toe sy skielik niks meer van hom hoor nie. “Ek het later gedink hy lê iewers dood in ’n sloot.”
Lees ook: Dominee sê Frankie het geen gewete
Na meer as twee angswekkende dae, het sy besluit om ’n boodskap op Facebook te plaas om te kyk of iemand hom nie gesien het nie.
“Vanoggend het ek skielik ’n klomp Please Call Me’s, nogal uit die tronk uit, van Frankie af gekry!”
Hy het vir haar gesê dat hy gearresteer is vir die besit van dwelms en in Pretoria Noord aangehou word.
“Hy gebruik Kristal Metamfetamien en ek neem maar aan dat hy daarvoor gearresteer is.”
Lees ook: Frankie besteel glo kerk maar leraar wil steeds help
Frankie het pas laat weet dat hy in die hof verskyn en laat gaan is. Sy ma is nie seker of hy op eie verantwoordelikheid uitgelaat of borg moes betaal het nie.
•Frankie was al talle kere in die nuus oor sy dwelmgebruik. Hy is ook twee keer tronk toe gestuur vir diefstal.
Volgens sy ma was hy eenkeer meer as ’n jaar skoon van dwelms, maar ’n familielid het “hom weer beïnvloed” en is hy terug dwelms en strate toe. Mariaan sê Frankie is onlangs agter sy vriendin aan Pretoria toe.
“Sy is swanger, maar het steeds Crystal Meth gebruik. Frankie het my laat weet dat sy minder gebruik, maar dat dit nie maklik is om dit net so te laat staan nie.”
Mariaan het aangedui dat sy gaan veg vir toesig oor haar kleinkind.
