Vrygewige Oom Kallie is einste Oom Jan die lugtydboef
Die lugtydboef het sy foon doodgedruk toe ’n joernalis van www.mobserver.co.za met hom wou praat. Gewoonlik gebruik hy die naam “Oom Jan” en noem hy sy vrou, “tannie Elsie”, maar vandag was hy oom “Kallie Vos”.
Roelf Bekker het so byna vir die boef se truuk geval, maar het gelukkig by www.mobserver.co.za kom aanklop, toe hy verneem dat dit die einste lugtydboef is, wat die afgelope tyd in die Middelburg en eMalahleni omgewing mense oortuig om vir hom lugtyd te koop.
Alles het vanoggend begin toe Louwtjie du Plessis se vrou hom gebel het.
“Sy het gesê dit is ’n ou oom wat ontslae wil raak van ekstra vleis by sy slaghuis, ‘want die gesondheidsdepartement is op pad.” Louwtjie kon nie wegkom by die werk nie en het Roelf gevra om dit te gaan oplaai.
Lees ook: Joernalis luister in op lugtydboef gesprek
“Kallie Vos” se nommer is verskaf en hy het hom gekontak om die vleis te gaan oplaai.
“Kallie” het gesê dat daar genoeg vleis sal wees dat hy vir hom ook ’n paar ekstra pakkies sal gee.
“Hy het my seker vyf keer gebel om te vra of ek al op pad is, want die vleis moet so gou as moontlik verwyder word. Hy het gesê die plaas is presies 26km uit op die Stoffbergpad en dat hy by die indraai met die Land Cruiser vir ons sal wag.”
Roelf het al begin ry, toe sy foon weer lui en “Oom Kallie” vir hom vra of hy nie vir hom ’n guns wil doen nie. Hy het gevra vir vier Vodacom lugtydstrokies van R275 elk.
Lees ook: Pasop vir vriendelike “Oom Jan” en sy “tannie Elsie”
Roelf was al op pad winkels toe om dit te gaan koop, toe hy weer met Louwtjie praat en vertel dat die man die lugtyd benodig.
“Ek het net daar besef dat ek al gelees het van die lugtydboef op www.mobserver.co.za en het vir Roelf gesê om dit nie te doen nie en ’n draai by die joernalis te gaan maak.”
Hy was nog besig om die joernalis te vertel wat gebeur het, toe “oom Kallie” bel om uit te vind of hy al op pad is. Hy het sy selfoon vir die joernalis gegee, wat die oomblik toe sy met “oom Kallie” praat, dadelik sy stem herken het as dié van “oom Jan” wat ons onlangs opgeneem het.
Daar is vir hom gesê hy praat met ’n joernalis, waarop hy dadelik die oproep beëindig het. Toe ons weer na die nommer toe bel, was sy foon af.
•Roelf sê hy gaan nie in op webtuistes nie en het nie geweet van die lugtyddief nie.
Lees ook: Jou lugtyd help ’n tronkvoël dwelms koop
•Mnr. Du Plessis wil weereens die gemeenskap en omliggende dorpe waarsku teen die “vriendelike oom” wat vleis uitdeel.
“Die oomblik wat hy lugtyd soek, dan moet jy weet dit is die skelm.”
•Daar word al etlike jare oor die lugtydboef en sy skelmstreke geskryf.
Hy het al groot bestellings vir kos by restaurante gemaak en as hulle dit moet aflewer, dan vra hy vir lugtyd.
Hy het al gevra dat sakemanne werk op sy plaas moet kom doen en op pad na sy plaas toe, het hy dieselfde truuk probeer.
Selfs organisasies is al gekontak en gesê hulle moet vleis kom haal, met natuurlik die gevolglike lugtydstories.
’n Ander keer het hy ook die Herpetologiese Vereniging genader om kwansuis ’n mamba wat sy skape pik te vang. En dan kom die oproep vir die lugtyd.
•Persone wat onlangs deur hom ingeloop is of wie hy probeer inloop het, kan Daleen Naudé bel by 013 243 1434 of ’n e-pos stuur na daleen@mobserver.co.za.
